| |

AfriForum gryp in by aanhouding van gesin in haglike kwarantynkamp

 

AfriForum het ingegryp ná ’n dringende pleidooi van ’n gesin van Midrand wat in haglike omstandighede in ’n COVID-19-kwarantynkamp in Groblersdal in Limpopo aangehou word.

Dr. Leon Nel, sy vrou, Melanie, en hul twee kinders, word by die Zithabeseni-kwarantynkamp aangehou. Hulle is hierheen gebring nadat hulle onlangs met vakansie in Mosambiek was.

Nel het in ’n telefoniese onderhoud gesê die geriewe by die kamp is glad nie op standaard nie en hy vrees dat hy en sy gesin hier baie siek kan word.

AfriForum het in ’n dringende skrywe aan die ministers van gesondheid, internasionale betrekkinge en samewerking, asook die SAPD geëis dat gehoor gegee word aan die gesin se wens om vir die virus getoets te word sodat hulle  vrygelaat kan word en hulself kan isoleer indien nodig.

Die gesin het in Mosambiek vakansie gehou toe die staat van inperking aangekondig is en het ná vyf weke van selfisolasie in Mosambiek na Suid-Afrika teruggekeer. Met hul aankoms by die Lebombo-grenspos het lede van die SAPD hulle na ’n kwarantynkamp in Groblersdal geneem, ten spyte van die gesin se konsultasie met amptenare van die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking in Mosambiek.

“Die SAPD was baie intimiderend en het militant opgetree en dit duidelik gemaak dat ons eerder nie enige vrae moet vra nie en net moet doen wat hulle vir ons sê.”

Volgens Nel was dit met hul aankoms by die kamp baie duidelik dat niemand daaroor ingelig of voorbereid was nie. “Ons temperatuur is gemeet en ons moes ons name op ’n lys skryf. Ons is nie gemaklik met die omstandighede en geriewe hier nie. Dit is vervalle en daar is murasies rondom om. Die vullisterrein hier naby het ’n stank en ape hardloop ook hier rond.

“Ons eet nie die kos hier nie omdat ons nie seker is of dit volgens gesondheidsreëls voorberei is nie. Ons eet maar van die kos wat ons van Mosambiek saamgebring het. Die personeel het tot vandag toe nie enige maskers of handskoene gedra nie.”

Volgens Nel het hulle ook nie handdoeke en ander basiese noodsaaklikhede soos komberse gekry nie. Die kraanwater is ondrinkbaar en hulle het ’n bottel water per gesin gekry. Hulle moes self die kamers en badkamers probeer skoonmaak wat baie vuil, onhigiënies en in ’n haglike toestand is. “Ons wil baie graag weet of die geriewe deur die departement van gesondheid goedgekeur is en of enige vooraf inspeksies hier gedoen is. Dit wil ook nie voorkom of die termometers gekalibreer is nie omdat daar verskillende lesings is. Ons voel uitgelewer en doen alles wat ons kan om onsself gesond te hou.”

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê dit is immoreel dat mense in hierdie kampe aangehou word en die owerhede bloot weier om hulle vir die virus te toets. “Verder is hierdie fasiliteit haglik en maak dit inbreuk op die reg op menswaardigheid van enigeen wat daar moet bly. Die fasiliteit is ook teenstrydig met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se aanbevelings vir kwarantynfasiliteite. AfriForum moes by hierdie saak intree. Ons kan eenvoudig nie hierdie tipe magsvergrype deur die regeringsamptenare toelaat nie.”

Dié ingryping kom nadat AfriForum verlede week geëis het dat Sihile Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, se dreigement dat mense wat positief vir COVID-19 toets in kwarantynkampe gedwing sal word, ongeag of hulle doeltreffend kan selfisoleer, teruggetrek moet word.

Zikalala het dié dreigement teruggetrek ná AfriForum ’n prokureursbrief aan Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake gestuur het. Omdat die regulasies wat Dlamini-Zuma uitgereik het regeringsamptenare steeds bemagtig om presies te doen wat Zikalala gedreig het om te doen, gaan AfriForum egter voort met beplande regsaksie in dié verband.

“Gevalle soos dié van die Nel-gesin bewys weer eens dat hierdie nasionale regulasies irrasioneel is. Dit is ’n skending van die mees basiese vryhede en waardigheid van mense en kom neer op maatreëls wat op geen wyse verantwoordbaar is in enige demokrasie wat deur die beginsels van vryheid, regverdigheid en die reg gerig word nie,” sê Roets.

AfriForum se kommer en ingryping kom ook nadat die Verenigde Nasies (VN) se kommissie vir menseregte Suid-Afrika uitgesonder het vir ’n “giftige inperkingskultuur” wat geskep is.

Die kommissie sê te streng maatreëls het ’n verreikende uitwerking op die kwesbaarste mense in die samelewing. Die VN wys daarop dat regerings nie noodmaatreëls mag misbruik nie.

Antonio Guterres, sekretaris-generaal van die VN, het vroeër gesê lande moenie COVID-19-maatreëls misbruik om onderdrukkende maatreëls in te stel nie. Die virus is die bedreiging en nie die mense nie, meen hy.

Soortgelyke plasings