|

AfriForum gryp in by chaotiese dienste en rekeninge in hoofstad

Deur: Alet Rademeyer

Die aanstelling van Mpho Nawa as administrateur van die Tshwane-metro het daartoe gelei dat ’n begroting vir die stad onregmatig goedgekeur is wat duisende Pretorianers tans hoofbrekens besorg.

AfriForum het reeds hofstukke beteken om die besluit oor die begroting ter syde te stel en eis ook dat ’n nuwe deursigtige proses begin word om ’n nuwe begroting goed te keur.

Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê die  administrateur se besluit rondom die begroting is strydig met die Grondwet.

Volgens Mostert wil dit voorkom asof politieke inmenging vanaf die kant van David Makhura, premier van Gauteng, vir die huidige chaos in die Metro verantwoordelik is. “Makhura moes dadelik toegetree het om die situasie reg te stel, maar hy het weens sy politieke bande nie opgetree nie.”

AfriForum se hofaansoek sal na verwagting op 29 September aangehoor word.

Volgens Mostert het die besluite wat die administrateur geneem het nie net ’n finansiële las op die inwoners van die stad geplaas nie. “Verskeie beleide is klaarblyklik ook net deurgevoer wat tot chaos met dienslewering gelei het. Die Metro het ’n tariewestruktuur vir waterdienste verander wat armes benadeel en verbruikers ook ontmoedig om water spaarsamig te gebruik.”

Sedert die Metro onder administrasie geplaas is, het ander probleme ook ontstaan. Duisende inwoners kry foutiewe munisipale rekeninge, vullis word nie meer verwyder nie, terwyl vullisterreine ook nou gesluit is.

“Makhura versaak sy plig as premier van Gauteng en gevolglik ly die inwoners geweldig onder ’n bestuur wat totaal in duie gestort het.”

Deidré du Preez, ’n koördineerder by AfriForum se Gemeenskapsake, sê inwoners moet hulself probeer beskerm teen astronomiese foute rekeninge deur ’n dispuut teen die Metro te verklaar. Wanneer ’n dispuut verklaar is, mag die Metro nie voortgaan om mense se krag af te sny, of van ander invorderingsmeganismes gebruik te maak alvorens die dispuut uitgeklaar is nie.

Inwoners kan ’n dispuutvorm hier aflaai en dit stuur na disputes@tshwane.gov.za of customercare@tshwane.gov.za.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir Gemeenskapsake by AfriForum, sê dit is verregaande dat Makhura al sy aandag en fokus op die Tshwane-metro plaas terwyl die Merafong- en Emfuleni-munisipaliteite in ’n baie swakker toestand is en korrupsie ook hier gedy.

Soortgelyke plasings