|

AfriForum gryp in by Senekal met skenking van 250 000 liter water

AfriForum het ʼn konvooi, bestaande uit lede van 18 takke in die oostelike gedeelte van die Vrystaat en Gauteng-Suid, gemobiliseer om op Saterdag, 7 Mei sowat 250 000 liter water aan die gemeenskap van Senekal te verskaf.

Dit volg nadat die burgerregte-organisasie op 29 April ingelig is dat die dorp se munisipale water vuil en ondrinkbaar is, en later in kennis gestel is dat daar geen water meer is nie.

Die konvooi het bestaan uit ongeveer 35 voertuie wat onderskeidelik vertrek het vanaf Sasolburg en Bethlehem na Senekal, waar watertenks onder meer by die Engo Bejaardesorg, Mount Zion Primêre Skool, Paul Erasmus Hoërskool, Senekal Laerskool en die ou kommando-kantore gevul is.

ʼn Groot hoeveelheid water is ook by die Matwabeng Mtembo-woonbuurt afgelaai,” het Hendrik Oosthuizen, streekskoördineerder vir die AfriForum-takke in die Vrystaat, gesê.

Stefan Coetzee, voorsitter van die niewinsgewende-organisasie Senekal Water, het aan Forum Nuus gesê dat sowat 40 000 mense deur dié waterkrisis geraak word. Hy het ook gesê dat dit die tweede keer in drie jaar is wat die dorp só ʼn krisis beleef. In 2013 het Senekal vir nege maande nie water gehad nie.

Volgens Coetzee is die swak infrastruktuur, die droogte, asook swak beplanning van die munisipaliteit die hoofredes vir hierdie krisis. Hy vertel dat daar sprake was van ʼn dam wat in Rosendal gebou sou word om water vir Senekal te voorsien, maar sê dit is sonder verduideliking afgekeur.

“Ons het ʼn volhoubare waterbron nodig om voorsiening te maak vir tye soos hierdie. Boorgate en riviere is nie genoeg nie.”

Hy sê voorts dat die huidige waterkrisis die dorp ook ekonomies beïnvloed. “Niemand sal nou wil belê in die dorp nie. As gevolg van die watertekort word huise se waardasie met sowat R20 000 ingekort.”

Mev. Betsie Nieuwenhuis, van Engo Bejaardesorg in Senekal het aan Forum Nuus gesê dat die waterkrisis die versorging van bejaardes baie moeilik maak. “Ons moet ons dag beplan volgens die hoeveelheid water wat beskikbaar is. Dit beteken dat ons party dae bejaardes slegs kan was in ’n skottel en nie bad nie.”

“Ter wille van higiëne moet ons ook daagliks die klere en linne van bejaardes skoonhou. Hierdie waterkrisis belemmer ons versorgingsproses.”

AfriForum sal tydens die volgende fase van hierdie selfdoen-inisiatief die Departement Waterwese en Sanitasie nader om, in samewerking met die Setsoto Plaaslike Munisipaliteit, oplossings vir dié krisis te vind.

Volgens Charles Castle, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng-Suid, dien vandag se lewering van sowat 250 000 liter water as bewys van die effektiwiteit en volhoubaarheid van die landswye AfriForum-takstrukture.

“Ons wil ʼn spesiale woord van dank rig aan al die AfriForum-takke wat deelgeneem het aan die aksie en aan PTruck vir die bystand wat verleen is.”

AfriForum se takke in Kempton Park, Alberton, Nigel, Springs, Heidelberg, Vanderbijlpark, Primrose, Frankfort, Reitz, Harrismith, Bethlehem, Heilbron, Krugersdorp, Vereeniging, Sasolburg, Randfontein, Westonaria en Petrus Steyn vat almal hande met dié projek om te verseker dat die inwoners van Senekal skoon water kry.

Verskeie ander organisasies en besighede het ook hul bereidwilligheid getoon om saam met AfriForum hierdie waterverskaffingsprojek aan te pak. Dit sluit in Ptruck Towing, WSSA (Water Shortage South Africa), The Twilight Group en Gauteng 4×4 Water Drive.

“Ons benodig almal se samewerking om aan die inwoners van Senekal drinkwater te verskaf,” het Castle gesê.

AfriForum moedig alle AfriForum-lede, lede van die publiek en inwoners van elke betrokke gemeenskap aan om betrokke te raak deur ʼn e-pos na charles@afriforum.co.za te stuur of 074 589 3589 te skakel.

 

 

Soortgelyke plasings