|

AFRIFORUM GRYP IN NÁ VROU SE DOOD FAMILIE VERPLETTER

Deur Marthinus Koekemoer

“Hy het ons familie verwoes.”

Só het ’n emosionele Marie Hamman, ma van Lizel Visagie, wat op 23 Maart 2019 deur Khumbulani Malinga in Middelburg, Mpumalanga, doodgery is, vandag aan Forum Nuus gesê.

Malinga moet nou nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid by die saak ingegryp het op 1 Februarie 2021 in die hof verskyn.

Die saak teen Malinga is aanvanklik op 23 Augustus vanjaar teruggetrek weens ’n uitstaande bloedalkoholverslag.

Omstanders het beweer Malinga was vermoedelik onder die invloed van alkohol toe hy Visagie raakgery het. Die slag was so hard dat sy voertuig een van haar bene heeltemal afgeruk het. Sy het kort na die ongeluk aan haar beserings beswyk. Visagie kon betyds haar minderjarige dogter, Ceriza, uit die pad van Malinga se voertuig stamp. Sy het net ligte beserings opgedoen.

Malinga was ten tyde van die ongeluk glo besig om van die verkeerspolisie weg te jaag en het van die ongelukstoneel probeer vlug voordat omstanders hom voorgekeur het. Hy is ná sy hofverskyning op borgtog van R500 vrygelaat.

“Die polisie het my die dag ná die ongeluk besoek om ’n verklaring by my af te neem,” sê Hamman. “Hulle het tydens die besoek gesê ’n saak van moord word ondersoek. Daarna het ek net een SMS oor vordering met die saak van hulle gekry.”

Aangesien die saak vir meer as ’n jaar gesloer het, het AfriForum namens Visagie se familie ’n brief aan die die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gerig. In die NVG se antwoord van 13 November het hulle gesê die klagtes teen Malinga is aanvanklik teruggetrek aangesien die bloedalkoholverslag uitstaande was. Die saak teen Malinga is op 23 Augustus 2020 as gevolg daarvan van die hofrol geskrap. Die NVG het intussen aangedui dat hulle Malinga nou wel gaan vervolg.

“AfriForum verwelkom die NVG se besluit om Malinga wel te vervolg aangesien Lizel Visagie se naasbestaandes geregtigheid verdien,” sê adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“Sake soos hierdie beklemtoon die noodsaaklikheid van die druk wat die privaatvervolgingseenheid uitoefen sodat prima facie-sake wel vervolg word. Ons sal aanhou om die saak te moniteer en Lizel se naasbestaandes in hierdie verband by te staan.”

Ceriza het kort ná haar ma se roudiens verlede jaar by haar pa in Nieu-Seeland gaan bly. Hamman het haar kleindogter nog nie weer gesien nie.

Hamman sê sy het sedert AfriForum betrokke geraak het gereeld terugvoering oor die saak gekry, maar sy sukkel steeds om saans te slaap.

“Hy (Malinga) het my kind, ’n suster en ma van ons weggeneem. Ek sukkel om kop bo water te hou, want Lizel het die huis met my gedeel en altyd ’n groot bydrae gelewer. Ons wil net sien dat reg en geregtigheid geskied.”

Soortgelyke plasings