|

AfriForum help boere deur konserte te hou en blikkieskos in te samel

 

Die nood van boere wat die afgelope jare deur die lang uitgerekte droogte vererger is, is ’n saak wat die burgerregte-organisasie na aan die hart lê.

AfriForum toer vanjaar saam met ’n paar van die land se topkunstenaars ten bate van boere wat negatief deur die droogte geraak of geruïneer is.

Die konserte word tussen Maart en November in samewerking met kunstenaars soos Jakkie Louw, Adam Tas, Ghapi, Pietman Geldenhuys en Andries Vermeulen landwyd aangebied.

Henk Maree, AfriForum se woordvoerder vir die droogtetoer, sê dat hulle wil met dié veldtog hoop vir elke boer wil skep en ’n werklike verskil in hulle lewens wil maak. “Ernstige droogtetoestande eis reeds sedert 2015 sy tol op boere in Suid-Afrika – veral in die Noord-Kaap. In sommige gebiede is alle reserwes reeds uitgeput en is boere en die gemeenskap raadop en moedeloos. Die droogtefonds stel AfriForum onder meer in staat om broodnodige items soos voer en droogtevoerkorrels aan te koop, asook om dié aankope en skenkings van ander organisasies of individue na boere in droogtegebiede te vervoer.”

Hou AfriForum se Facebook-blad dop vir meer inligting oor waar en wanneer dié droogtetoerkonserte aangebied word.

Benewens dié veldtog het AfriForum-takke in Heilbron, Parys, Potchefstroom, Sasolburg en Wolmaransstad verlede week ook blikkieskos ten bate van die Hervormde Kerk in Parys se jaarlikse Blikkiesfees ingesamel. Die kerk het vanjaar besluit om die blikkies wat ingesamel word aan boere in nood te stuur.

Die Sasolburg-tak het met meer as 2 000 blikkies die meeste ingesamel. Die AfriForum-takke alleen het boonop meer blikkies ingesamel as wat in 2019 met die hele Blikkiesfees ingesamel is.

“Dit was net weer eens duidelik dat ons mense nog vir mekaar omgee. Dit sou heerlik wees as ons die milde reën van verlede week ook kon blik en na die droë dele in die land kon stuur. Ons het egter gedoen wat ons kon en ek is baie dankbaar teenoor my takke, wat hierdie groot hoeveelheid kos ingesamel het,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Soortgelyke plasings