|

AfriForum help Hertzogville-inwoners deur dreine leeg te maak

AfriForum het gedurende Januarie 2022 47 dreine van huise en sakeondernemings in Hertzogville wat se septiese tenks oorgeloop het, laat leeg suig. Dit volg nadat die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit weer versuim het om dienste aan die inwoners te lewer en vir weke aaneen nie die septiese tenks leeg gepomp het nie.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, is die munisipaliteit heeltemal wanfunksioneel en word inwoners gelos om hulle eie munisipale probleme op te los sonder enige hulp vanaf die munisipaliteit. “Die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit is besig om ineen te stort wat diensleweringsprobleme betref. Betalende inwoners is nou afhanklik van privaat kontrakteurs om noodsaaklike dienste te lewer terwyl die munisipaliteit terugsit en die belastinggeld skep,” sê Grobbelaar.

Grobbelaar voeg ook by dat dit nie die eerste keer is wat die probleem opduik nie en dat AfriForum al menigte briewe aan die munisipaliteit gestuur het om die probleem op te los. Die organisasie het ook in 2021 van privaat kontrakteurs gebruik gemaak om die dreine te laat leeg suig. “Dit is nou al die tweede keer wat AfriForum van ’n privaat kontrakteur gebruik moet maak om huishoudings en ondernemings se dreine te suig. AfriForum het altesaam al meer as R30 000 bestee om verligting te probeer bring waar die dreine oorloop. Die munisipaliteit steur hom nie aan die klagtes nie en is ook nie gepla oor die lewensgehalte van sy inwoners nie. Dit veroorsaak ’n groot gesondheidsrisiko omdat riool in mense se erwe vloei, maar steeds lewer die munisipaliteit nie die diens volhoubaar nie.”

AfriForum het weer ’n brief aan die munisipaliteit gestuur en geëis dat die R24 500 wat aan die begin van 2022 bestee is om die 47 dreine te suig, aan die organisasie terugbetaal moet word. AfriForum eis ook in die brief dat inwoners wat die munisipaliteit maandeliks vir dié diens betaal se rekeninge aangepas moet word sodat die diens volhoubaar deur ’n privaat kontrakteur gelewer kan word.

“Dit is tyd dat die munisipaliteit ophou om rekeninge uitreik vir dienste wat hulle nie lewer nie en om eerder die geld terug te gee aan die gemeenskap sodat hulle iemand kan aanstel wat bevoeg is om die diens volhoubaar te lewer. AfriForum is bereid om die proses te fasiliteer om te verseker dat inwoners die dienste ontvang waarvoor hulle betaal,” sê Grobbelaar.

Soortgelyke plasings