|

AfriForum help jeug om op voete te dink

(Foto’s:  Rozier van Tonder)

AfriForum en sy media-vennoot Rapport het vandeesweek die heel eerste Dink-of-Sink-wedstryd in Gauteng gehou.
Volgens Carien Bloem, koördineerder van onderwysprojekte by AfriForum, is die doel van die wedstryd om hoërskoolleerlinge se denk- en redenasievermoëns in Afrikaans te ontwikkel sodat hulle hulself later as volwassenes behoorlik kan uitdruk en standpunt kan inneem.

Dink-of-Sink is onvoorbereide debatvoering in Afrikaans.
Die wedstryd word die afgelope 15 jaar in die Kaap en 8 jaar in die Vrystaat aangebied. Dit is vanjaar vir die eerste keer in Gauteng aangebied en die skole wat op uitnodiging deelgeneem het is: Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies Seuns), Afrikaanse Hoër Meisieskool (Affies Meisies), en die hoërskole Garsfontein, Menlopark en Eldoraigne.
Die onderwerpe vir die toesprake het oor alledaagse onderwerpe soos politiek, godsdiens en eetgewoontes gehandel waaroor in die nuus berig is.

Daar was drie rondes waaraan ’n junior en senior span van elke skool deelgeneem het.
In die finale ronde het Affies Seuns en Menlopark teen mekaar te staan gekom. Die name van die junior spanne was onderskeidelik Stry-ysters en Absolute Parkies. Die senior spanne was Vol-stry-se en Absolute Menlo’s. Menlopark het uiteindelik met die louere weggestap.
Die beste spannaam was Boerenooientjies van Affies en die beste debatteerder Zahan Rijnen van Menlopark.

Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, was die seremoniemeester. Die beoordelaars was Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, Cornelius Jansen van Rensburg en Alana Bailey, albei adjunk uitvoerende hoofde van AfriForum.

Bloem het gesê volgende jaar sal enige skool in Pretoria vir die wedstryd kan inskryf.

Soortgelyke plasings