|

AfriForum help Krugersdorp opknap tydens #AnkerdorpPadskou

AfriForum het vandeesmaand sy Ankerdorp-padskou in Krugersdorp uitgerol en verskeie aksies uitgevoer om ’n positiewe verskil in dié dorp te maak.

Die burgerregte-organisasie het die padskou afgeskop deur die gebied rondom die Paul Kruger-monument skoon te maak sodat dit weer netjies en veilig vir die publiek is om te besoek. Hulle het ook Eco-Tabs in die dam naby dié monument gegooi om die watergehalte gedeeltelik te verbeter. Die dam word dikwels besoedel deur inwoners wat daar visvang.

AfriForum se teenboelieveldtogspan het ook vandeesmaand ’n opvolgbesoek by Laerskool Muldersdrif afgelê, waartydens elke onderwyser ’n teenboeliegids gekry het. Die gids bevat raad vir onderwysers, ouers en leerders wat met afknouery gekonfronteer word.

Die burgerregte-organisasie het ook 30 bome by die Friends of Rescued Animals (Fora) geplant wat skuiling aan sowat 350 honde en 150 katte bied.

“Ons beplan nog verskeie aksies vir die res van die maand. Ons fokus veral op  boomplantaksies in die dorp, aangesien September ook AfriForum se jaarlikse boomplantmaand is,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se assistentkoördineerder vir Gauteng-Suid.

AfriForum se #AnkerdorpPadskou is gegrond op navorsing deur Solidariteit dat Afrikaners in die toekoms toenemend na 30 dorpe in die land sal migreer waar basiese dienslewering en ander behoeftes soos gesondheidsdienste, veiligheid, versorging van bejaardes, skoon water en riolering binne bereik is. AfriForum het dus besluit om dié gemeenskappe te wys hoe ons as burgerregtewaghond saam met die groter Solidariteit Beweging selfbeskikking aanmoedig en self moue oprol om ons dorpe te verbeter.

Dié projek is vanjaar reeds in Pretoria, Rustenburg, Nelspruit, George en Tzaneen uitgerol waartydens talle suksesse behaal is.

 

Soortgelyke plasings