AfriForum help met arrestasie van moordverdagte


AfriForum se Stilfontein-buurtwag het op 6 Maart 2019 dié organisasie se beheerkamer in kennis gestel van ’n verdagte wat ’n sekuriteitswag in Klerksdorp doodgesteek het.

Jan Anderson van SDF Sekuriteit is op dié dag saam met die plaaslike SAPD na ’n paneelklopper ontbied om ’n inbraak te ondersoek. Met sy aankoms het Anderson die verdagte agterna gesit. Die verdagte het Anderson egter om ’n hoek ingewag en doodgesteek.
Danksy volgehoue monitering rondom die saak is die verdagte op 8 Maart 2019 in Sebokeng deur die SAPD se triotaakspan van Noordwes gearresteer. Die AfriForum 911-beheerkamer en die SAPD het deurentyd saam gewerk om dié sukses moontlik te maak.

“Dit is belangrik dat AfriForum en gemeenskappe saam met die SAPD werk om ons dorpe veiliger te maak. AfriForum betuig ook sy innige meegevoel met die Anderson-familie met hul verlies,” sê David Olivier, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die sentraalstreek.
“Maak seker dat jy die AfriForum 911-noodgevaltoep op jou slimfoon aflaai ten einde hulp te ontbied tydens ’n noodgeval of om verdagte aktiwiteite aan te meld. Besoek gerus AfriForum 911 se webtuiste by www.afriforum911.co.za,” sluit Olivier af.

Soortgelyke plasings