AfriForum help met herstel van Tswaing se watertoevoer


Elektrisiteitstoevoer na waterpompe in die dorpe van die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit – Delareyville, Ottosdal en Sannieshof – is verlede Vrydag sonder voorafkennisgewing afgesny weens wanbetaling deur die Ngaka Modiri Molema Distriksmunisipaliteit. Slegs Sannieshof, wat oor enkele dieselpompe beskik, kon daarin slaag om water te pomp en die ander twee dorpe in dié gebied is gevolglik sonder watertoegang gelaat.

Die AfriForum-tak in Delareyville het teen Vrydag, 23 November 2018 oor die omvang van die situasie bewus geword en die AfriForum-streekshoof, Corné Cronjé, het dadelik met AfriForum se regspan in verbinding getree om ’n dringende hofbevel te verkry. Teen Saterdag is die situasie geassesseer en die feit dat die pompe reeds Woensdag afgeskakel is, het die dringendheid van die probleem beklemtoon. Die regspan het op Maandag, 26 November 2018 ’n brief aan Eskom gestuur waarin Eskom gemaan word om die elektrisiteit binne ’n dag aan te skakel om te verhoed dat die saak in die hof aangehoor word. Deur die loop van Maandagmiddag is elektrisiteitstoevoer na die pompe herstel, maar tot op hede is daar steeds geen water in Delareyville beskikbaar nie. AfriForum stel ondersoek in na die oorsaak hiervan en sal gevolglik die nodige stappe neem om dit reg te stel.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, is dit onaanvaarbaar en boonop onwettig (ingevolge artikel 3 van die Waterwet, 36 van 1998) dat inwoners sonder water gelaat word, en daarom het AfriForum in hierdie geval opgetree.

“AfriForum het hande met die DA gevat en die sukses daarvan was eintlik ’n spanpoging. Dit is ‘n riem onder die hart om te sien hoe inwoners en instansies soos die skool en kerke wat boorgate het water aan mense beskikbaar gestel het. Dit onderstreep net weer die feit dat gemeenskappe tot almal se voordeel moet saamstaan,” sluit Pretorius af.

Soortgelyke plasings