|

AfriForum help om situasie by HS Overvaal te ontlont

Deur Alet Rademeyer

Die burgerregte-organisasie AfriForum is sedert vroegoggend by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging ontplooi om te help om die plofbare situasie te ontlont nadat ’n groep EFF-lede opgeruk het om skoolbedrywighede te ontwrig.

Die situasie volg op ’n hofsuitspraak deur die Pretoriase hooggeregshof wat ’n opdrag van die Gautengse onderwysdepartement ter syde gestel het dat die skool 55 Engelssprekende leerlinge moet inneem.

Die skool, wat ’n enkelmedium Afrikaanse skool is, het in hofstukke aangevoer dat die skool vol is en dat daar nie plek of hulpmiddele is om die leerlinge te akkommodeer nie. Daar is wel twee Engelse skole in die omgewing waar die leerlinge geplaas kan word.

Die departement, het by monde van Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in die provinse, sy ontevredenheid met die uitspraak uitgespreek en gesê die departement gaan daarteen appelleer.

Ontstoke ouers van die 55 leerlinge het ná die uitspraak gedreig om die skool te ontwrig of selfs af te brand.

Intussen het die VF Plus aangedui dat hy strafregtelike klagtes teen amptenare gaan indien wat glo skoolhoofde van die Engelse skole gedreig het dat hulle hul werk sal verloor indien hulle nie sê dat hul skole vol is nie.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê daar was oproerige EFF-lede vroegoggend by die skool wat geëis het dat daar met Afrikaans weggedoen word. ’n Ouer is ook tydens ’n voorval aangerand.

Volgens hom is daar is redelike polisieteenwoordigheid en die situasie is onder beheer. Die polisie is ook slaggereed vir enige verdere gebeure en hanteer die situasie goed, het Cameron gesê.

Hy het gesê die situasie sal deurlopend gemonitor word. Tot dusver verloop die skooldag normaal met leerlinge en personeel wat met hul dagtaak voortgaan.

Soortgelyke plasings