|

AfriForum help Phalaborwa-inwoners om derduisende aan eiendomsbelasting te spaar

Ingryping deur AfriForum die afgelope maande by ’n foutiewe waardasierol in Phalaborwa in Limpopo het inwoners van dié dorp gehelp om derduisende rande aan eiendomsbelasting te spaar.
Morné Mostert, provinsiale koördineerder, het gesê AfriForum het sowat drie maande gelede begin om ’n dispuut met die Ba-Phalaborwa plaaslike munisipaliteit te verklaar oor onbehoorlike verhogings in eiendomswaardasies.

Volgens Mostert het AfriForum se aksie daartoe gelei dat die waardeerder die eiendomme waaroor dispute ingedien is, herwaardeer het en ’n nuwe waardasie vir dié eiendomme opgestel het.
Jane Williamson, voorsitter van die AfriForum-tak op die dorp, het gesê sowat 50 inwoners het dispute verklaar. Die hersiening van hulle eiendomswaarde het daartoe gelei dat die waardasies tussen R180 000 en R750 000 afgebring is.
“Dit beteken ’n enorme verligting vir inwoners en veral bejaardes wat reeds sukkel om verhoogde munisipale rekeninge te betaal.”

Williamson se eie eiendom se waarde is van R920 000 na R780 000 afgebring. Dit beteken ’n verlaging van R1 200 per jaar oor die volgende vyf jaar. “Dit maak ’n groot verskil aan ’n mens se uitgawes.”
Volgens Williamson het die nuwe waardasierol op 1 Julie in werking getree en inwoners sien nou eers op hul rekeninge wat die implikasie is. “Talle inwoners wat nie ’n dispuut verklaar het nie, gaan ’n baie groot skok kry as hulle die verhoogde tariewe sien.
“Ek het reeds van gevalle gehoor waar individue se rekeninge van R560 per maand verdubbel het of van R500 na R1 500 gestyg het. ’n Bejaarde vrou het my in trane gebel en gevra om haar dringend te help omdat sy nie die verhoging kan bekostig nie.”|

Mostert en Williamson het gesê inwoners wat negatief geraak word, moet by AfriForum aansluit sodat daar vir hul regte en beter tariewe beding kan word.
“Gemeenskappe kan nie toelaat dat munisipaliteite sulke hoë belastings afdwing omdat die eiendomme buitensporig hoog gewaardeer is nie,” het Mostert gesê.

Sluit aan en gee ons jou mandaat

Soortgelyke plasings