|

AfriForum help water verskaf in Kroonstad

Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan op 2 Julie 2016 in samewerking met Water Shortage South Africa (WSSA) groot hoeveelhede water aan die inwoners van Kroonstad verskaf.

Dit volg nadat Kroonstad al vir ʼn geruime tyd onder droogte gebuk gaan weens munisipale reservoirs en damme wat opgedroog het.

Volgens Charles Castle, regs- en risikokoördineerder by AfriForum, het die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit versuim om hul pligte na te kom tydens die huidige waterkrisis.

Hy meen die munisipaliteit het nie vroegtydig voldoende waterbeperkings ingestel nie en dat die swak en verouderde infrastruktuur ook bydra tot die huidige waterkrisis.

“Kroonstad benodig sowat 35 miljoen liter water per dag. Met opgedroogte reservoirs en ʼn swak infrastruktuur het die munisipaliteit nie voorsiening gemaak vir die droogte nie. As belastingbetalers het ons ʼn grondwetlike reg tot skoon en drinkbare water.”

Die departement van water en sanitasie het onlangs gebeurlikheidsplanne vir die waterkrisis in plek gestel. Dit behels dat meer water uit die Vaalrivier onttrek kan word en meer boorgate gesink word.

Luidens mediaberigte is die water van munisipale boorgate in Kroonstad sowat drie weke gelede óók besoedel wat beteken dat die boorgatwater nie geskik is vir menslike gebruik nie.

Volgens Castle is die Vaalrivier ook nie meer ʼn realistiese oplossing vir die watertekort nie, omdat daar nou weens die erge droogte en ’n toename in verbruikers, heelwat minder water in die Vaalrivierstelsel is as ’n jaar gelede.

“Mariette Liefferink, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO), het al in 2013 gewaarsku dat die Vaalrivier in 2014 of 2015 sal begin leegraak,” meen Castle.

“Weens munisipaliteite se wanbestuur is dit vir AfriForum belangrik om hierdie veldtogte te dryf om vir gemeenskappe te wys dat hulle mekaar kan help in tye van nood,” sê Castle.

AfriForum het reeds verlede maand ʼn konvooi, bestaande uit lede van 18 takke in die oostelike gedeelte van die Vrystaat en Gauteng-Suid gemobiliseer om sowat 250 000 liter water aan die gemeenskap van Senekal te verskaf. Dit volg nadat die burgerregte-organisasie op 29 April ingelig is dat dié dorp se munisipale water ook vuil en ondrinkbaar is, en later in kennis gestel is dat daar geen water meer is nie.

Castle het ʼn brief aan Nomvula Mokonyane, minister van water en sanitasie, gerig en versoek dat die departement hul plan van aksie vir die waterkrisis in Senekal bekendmaak.

“Die departement van water en sanitasie moet geld bewillig vir die waterkrisis.”

Inwoners regoor Suid-Afrika kan by hierdie projek betrokke raak deur met die plaaslike AfriForum-tak in hul dorp kontak te maak. Daar gaan landswye waterpunte wees waar waterskenkings afgelaai kan word. Indien enige lid van die publiek wil weet waar hierdie waterpunte geleë is, kan hulle vir Castle by charles@afriforum.co.za kontak.

Raak vandag by AfriForum betrokke en SMS “Water” na 45354 (R1). Besoek die organisasie se nasionale Facebook-bladsy óf die Facebook-bladsy vir die dorp vir meer inligting.

Soortgelyke plasings