AfriForum herstel waterpompe in Naboomspruit om drinkwater te voorsien


Die AfriForum-tak in Naboomspruit het die afgelope week ’n druk- en boorgatpomp herstel wat al ’n geruime tyd lank buite werking was. ’n Nuwe elektroniese beskermingsmeganisme het verseker dat die drukpomp – wat water vanaf die Nylstasie na die hoofreservoir vervoer – weer korrek funksioneer, terwyl die boorgatpomp in sy geheel vervang moes word.

“Die boorgatpomp het uitgebrand omdat dit nie altyd deur die watertafel bedek word nie weens die watertafel se vlakke wat seisoenaal wissel. Ons moes dus ’n nuwe boorgatpomp aankoop en laat installeer,” sê Phillip van Staden, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak.

Die elektroniese beskermingseenhede beskerm die pompe teen toestande soos om droog te loop, spanningsfoute en oorlading wat uiteindelik tot uitbranding kan lei. Wanneer die pompe beskadig word, is die implikasie teenoor die gemeenskap verrykend en belemmer dit hul toegang tot lopende water vir huishoudelike gebruik. AfriForum het daarom ook ’n kenner aangestel om die pomp maandeliks te ondersoek en te verseker dat alle komponente nog in ’n werkende toestand is.

Van Staden het ook die burgemeester Marlene van Staden bedank vir die vinnige en positiewe reaksie wat hy ontvang het nadat hy die probleem onder haar aandag gebring het. “Die burgemeester se samewerking teenoor ons AfriForum-tak het ons in staat gestel om die probleem so spoedig moontlik op te los. Ons sal graag in die toekoms meer gereeld met die munisipaliteit wil saamspan om algemene probleme in die gemeenskap aan te pak.”
Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, sê dat hoewel die munisipaliteit verantwoordelikheid vir dienslewering in die gemeenskap moet aanvaar, is AfriForum bereid om hulp te verleen soos nodig. “Dit is ons plig as burgerregte-organisasie om te verseker dat soortgelyke probleme vroegtydig aangepak word voordat dit buite beheer raak. Indien die munisipaliteit versuim om sy pligte na te kom, sal ons self by die herstelwerk betrokke raak.”

Sluit vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak aan en help ons om jou reg tot water te verseker: SMS “Water” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings