|

AFRIFORUM HESSEKWA-BUURTWAG SE PROTOSPAN STAAN SAPD WEER SUKSESVOL BY

AfriForum se Riversdal-protospan, wat deel vorm van die organisasie se Hessekwa-tak, het op 1 Julie 2021 die SAPD gehelp om drie verdagtes vas te trek wat betrokke was by die diefstal van selfoontoringbatterye.

Om 13:52 het ’n lid van AfriForum se Hessekwa-buurtwag alarm gemaak nadat die LPR-kamerastelsel ’n verdagte motor uitgewys het wat Riversdal binnegegaan het en ná ’n ruk weer verlaat het in Heidelberg se rigting.

Die SAPD-bevelstruktuur van Riversdal en Heidelberg is in kennis gestel waarop AfriForum se protospan versoek is om die SAPD te help deur die verdagte voertuig te volg. Die voertuig, ’n Volkswagen Polo, met drie insittendes, is daarna deur die Heidelberg SAPD afgetrek. Vier selfoontoringbatterye met ’n waarde van ongeveer R100 000 is in die motor gevind en die drie individue is in hegtenis geneem.

“Ons is trots daarop om weer eens te kon bydra om misdaad in ons omgewing te bekamp en die gemeenskap te beveilig. Die SAPD se vertroue in ons strukture is van onskatbare waarde en dis altyd goed om saam met die plaaslike SAPD te werk om ’n verskil te maak. Ons bedank verder die SAPD vir die geleentheid om bystand te lewer en wens hulle geluk met hul vinnige en doeltreffende optrede,” sê Johan Crous, protospanlid en leier van AfriForum se Riversdal-buurtwag.

Om by een van AfriForum se veiligheidstrukture betrokke te raak SMS “VEILIG” na 45350.

Soortgelyke plasings