| |

AfriForum het nou kwartmiljoen aktiewe lede; groei sterk tydens inperking

Die burgerregteorganisasie AfriForum se aktiewe ledetal het pas die kwartmiljoenkerf verbygesteek en staan tans op 250 054 lede. Dié organisasie se ledetal het aan die begin van die COVID-19-inperking in Maart op 237 000 gestaan, wat beteken dat die organisasie tydens die inperking ’n netto groei van meer as 13 000 lede toon.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, dui AfriForum se sterk groei – te midde van die ekonomiese uitdagings wat die inperking meebring – daarop dat Afrikaners en minderhede oor die algemeen toenemend begin besef dat hulle moet saamstaan in sterk gemeenskapsinstellings soos AfriForum. Dit dien as buffer teen ’n ANC-regering wat tydens die COVID-19-krisis selfs groter vyandigheid teenoor minderhede openbaar. “Die feit dat die regering, met die goedkeuring van die hof, selfs tydens ’n krisis ras as maatstaaf vir COVID-19-hulpverlening gebruik, asook die openlike rasbeheptheid by selfs die president van die land, stuur ’n sterk boodskap aan minderhede dat hulle self deur sterk burgerlike instellings na hul eie belange sal moet omsien,” sê Kriel.

Kriel wys daarop dat ’n kwartmiljoen lede AfriForum nou in staat stel om sy netwerk van meer as 150 buurtwagte en ander selfbestuurprojekte in plaaslike gemeenskappe nog verder uit te brei. Boonop kan dié organisasie se nasionale- en internasionale veldtogte op ’n selfs groter skaal aangepak kan word. “AfriForum se krag lê in sy lede en daarom bedank AfriForum elkeen van sy lede vir hul volgehoue ondersteuning wat AfriForum se suksesse moontlik maak.”

“AfriForum wil ook sy vrywilligers, personeel, direksie, lede en ander rolspelers bedank wat met genade van Bo en harde werk ’n rol gespeel het om dié organisasie – wat 14 jaar gelede met ’n destyds onbekende naam, geen lede, drie personeellede en min hulpbronne gestig is – te help om te groei tot op die punt waar AfriForum met meer as 250 000 lede nou die grootste burgerregteorganisasie in Afrika is,” sluit Kriel af.

Soortgelyke plasings