|

AfriForum: Hoë kragtariewe sal swak ekonomie verder knou

Die burgerregteorganisasie AfriForum het verdere kommentaar by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) ingedien oor die impak wat ’n elektrisiteitstariefverhoging op die Suid-Afrikaanse ekonomie sal hê. Dít volg nadat AfriForum aan die openbare verhore deelgeneem oor Eskom se aansoek om ’n bedrag van R27,3 miljard deur middel van die aansuiweringsrekeningaansoek vanaf die verbruiker wil verhaal. Dit kom neer op ’n 16%-verhoging.

“Die ekonomie is reeds onder geweldige druk en Eskom se wanprestasie, waarvan beurtkrag slegs een van die uitkomstes is, gaan die ekonomie net swaarder laat trek. Tito Mboweni, minister van finansies, het tydens die begrotingsrede probeer om verligting vir Suid Afrikaners te bring. Ons moenie dié verligting met ’n swaarder elektrisiteitskoste vervang nie,” sê dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

AfriForum meen dat Nersa ’n stokkie moet steek voor Eskom se planne om nóg geld te leen en dié geld van die verbruiker te verhaal. Eskom moet daarop fokus om beter bestuur toe te pas eerder as om hul kostes na die verbruiker oor te dra.

“Eskom se bestuur van bestaande sake vir die 2019/2020-boekjaar het nog nie verbeter nie. Ons verwag dat hulle beter bestuurspraktyke toepas en dat daar aan die basiese vereistes van die Wet op die Bestuur van Openbare Finansiële Bestuur, 1999 voldoen word vóór Eskom enigsins bakhand kan staan,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van plaaslikeregeringsake.

AfriForum sal voortgaan om dié proses te moniteer.

Soortgelyke plasings