AfriForum in hof oor Grace Mugabe


Die burgerregtewaghond AfriForum se aansoek teen die minister van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) se vroeëre besluit om diplomatieke immuniteit aan Grace Mugabe – die voormalige presidentsvrou van Zimbabwe – toe te staan, sal op 10 en 11 Mei 2018 in die hoë hof in Pretoria aangehoor word.
Dié hofaansoek is die eerste belangrike stap in ’n proses om Mugabe vir haar vermeende aanranding van Gabriella Engels, ’n jong Johannesburgse model, in Augustus verlede jaar te laat vervolg.
Daar het verlede jaar hoogdrama geheers toe dit bekend geword het dat Engels na bewering deur Mugabe met ’n elektriese koord aangerand is omdat laasgenoemde ontevrede was met haar twee seuns se eskapades in ’n luukse hotel in Sandton.
Dit is algemeen bekend dat Mugabe en haar kinders uitspattige lewenstyle gehandhaaf en groot hoeveelhede geld op verblyf, inkopies en partytjies in onder meer Sandton en Johannesburg gespandeer het toe sy nog die presidentsvrou van Zimbabwe was.
Die bewind van Robert Mugabe, die Zimbabwiese diktator, het kort ná die voorval geëindig ná die Zimbabwiese weermag ingegryp het. Sedertdien het Emmerson Mnangagwa die president van Zimbabwe geword.
Die Suid-Afrikaanse regering het destyds op ’n baie omstrede wyse besluit om stil-stil diplomatieke immuniteit aan Grace Mugabe te verleen en haar só die geleentheid gegee om uit Suid-Afrika na Zimbabwe terug te keer ten einde vervolging in Suid-Afrika vry te spring. As gevolg van die verlening van diplomatieke immuniteit aan haar, kon die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie die klagtes teen Mugabe van aanranding met die doel om ernstig te beseer verder ondersoek nie en AfriForum het derhalwe verlede jaar ’n hofaansoek van stapel gestuur om die omstrede verlening van diplomatieke immuniteit tersyde te laat stel.
Verskeie ander instansies het intussen soortgelyke aansoeke by die hoë hof in Pretoria ingedien en ook as vriende van die hof tot die verrigtinge toegetree; dus sal al die aansoeke rondom dié saak gelyktydig aangehoor word.
Indien AfriForum suksesvol is met die tersydestelling van dié verlening van immuniteit aan Mugabe, sal dit die weg vir die NVG open om stappe te neem ten einde Mugabe te vervolg. AfriForum het reeds vroeër aangedui dat sy privaatvervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel gereed staan om privaat vervolging in te stel sou die NVG besluit om Mugabe nie te vervolg nie.

Soortgelyke plasings