AfriForum in hof oor swak bestuur van Naboomspruit-vullisterrein


Die burgerregte-organisasie AfriForum se hofaansoek, wat onder meer vereis dat die Lim 368 Plaaslike Munisipaliteit die Naboomspruit-vullisterrein opknap, is op 10 Oktober 2017 in die Noord-Gautengse hoë hof aangehoor. Uitspraak is voorbehou. Dié vullisterrein voldoen nie aan lisensiepermitvereistes nie en dít lei gevolglik tot die besoedeling van grondwater.
AfriForum vereis verder ook die volgende:

  • Dat alle vullis op ’n omgewingsvriendelike wyse verwyder word.
  • Dat dreineringstelsels gebou word om afloopwater van die vullisterrein te herlei.
  • Na afloop van ’n hofbevel in AfriForum se guns, dat watertoetse binne vyf dae by alle waterbronne, asook loogwater in en om die vullisterrein gedoen word en na geakkrediteerde laboratoriums vir ontleding gestuur word.
  • Dat ’n operasionele plan opgestel word wat verduidelik hoe die vullisterrein in die toekoms gerehabiliteer gaan word.
  • Dat goeie toegangbeheermaatreëls by die vullisterrein in plek gestel word.

Die hofaansoek is verlede jaar gebring nadat AfriForum talle klagtes van Naboomspruit-inwoners ontvang het oor die swak bestuur van die vullisterrein.

“Dit is belangrik om die swak bestuur van vullisterreine onmiddellik hok te slaan, aangesien dit ’n reuse-impak op die omgewing en gemeenskap het. Besoedelde loogwater besoedel grondwater, wat uiteindelik deur boorgate opgepomp word vir menslike gebruik,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.
“Daar waar munisipaliteite versuim om hul grondwetlike pligte na te kom, sal AfriForum druk uitoefen om toe te sien dat ons waterbronne en omgewing nie besoedel word nie,” sluit Grobbelaar af.

Soortgelyke plasings