|

AfriForum hou kranslegging vir gemartelde plaasmoordslagoffer

Twee kransleggings is vandeesweek gehou ter herinnering aan Sue Howarth (64) van Dullstroom wat Dinsdagoggend in die hospitaal dood is nadat sy en haar man, Robert Lynn (66), verlede Sondag op wrede wyse tydens ’n plaasaanval gemartel is.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n kranslegging by die Life MidMed-hospitaal in Middelburg gehou, waar Howarth oorlede is nadat die masjiene wat haar aan die lewe gehou het, afgeskakel is.

Lede van die Dullstroom-boerevereniging het Woensdag ʼn krans en blomme vir Sue by die ingang na hul plaas, Marchlands, gaan lê en aangedui dat daar tot en met haar begrafnis elke dag gebedsessies daar gehou sal word.

Howarth en Lynn is vroeg Sondagoggend op wreedaardige wyse gemartel en bebloed in die donker langs die pad afgelaai nadat drie mans hul in die vroeë oggendure op hul plaas oorval het.

Volgens David Spohr, voorsitter van AfriForum se Belfast-tak, is Howarth “onherkenbaar” geslaan. Hy sê ook dat sy besig was om te versmoor toe sy gevind is. Lynn is etlike kere met ’n mes gesteek en met ’n blaasvlam gebrand. Hy veg steeds om sy lewe in die Life Midmed-hospitaal.

Howarth is die vyftiende persoon wat vandeesmaand weens ’n plaasaanval in Suid-Afrika dood is, en ook een van die mees onlangse slagoffers.

Volgens Hillel Coetzer, woordvoerder van AfriForum, is die kranslegging ter na gedagtenis aan Howarth, maar ook vir alle mense wat in die afgelope twee maande slagoffers van plaasmoorde was.

Maritha Hattingh, wat haar haar man Pieter in 2001 aan die dood afgestaan nadat hy ook in ʼn wrede aanval op hul plaas tussen Dullstroom en Middelburg vermoor is, het tydens die kranslegging aan Forum Nuus gesê dat sy vir niemand die vrees en trauma wat sy ervaar het, kan verduidelik nie.

“Die aanval was 15 jaar terug, maar op dae soos dié kom die herinneringe na jou terug. Hoe vergeet ʼn mens dit ooit as jou geliefde so wreed vermoor is?” het Hattingh baie hartseer gevra.”

Sy sê voorts dat sy dankbaar is vir die rol wat die burgerregte-organisasie speel in die stryd teen plaasmoorde. “Ek is ʼn vrou alleen en dit is nie altyd maklik om aan te gaan met ʼn mens se lewe nie, maar met die ondersteuning van die gemeenskap en organisasies soos AfriForum kry ʼn mens weer moed.”

Rietjie Britz, ʼn inwoner en lid van AfriForum se Middelburg-tak, sê dat Howarth se dood die hele gemeenskap geruk het. “Dit is verskriklik hartseer om te hoor hoe wreed ons land se boere so sinneloos vermoor word. Ons almal se harte bloei vandag saam vir die slagoffers se vriende en familie.”

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het tydens die kranslegging gesê dat Suid-Afrikaanse boere met ʼn abnormale vlak van geweld en trauma gekonfronteer word. “Ons begin onderskeid tref tussen ‘goeie’ en ‘slegte’ moorde, waar ʼn goeie moord verwys na ʼn slagoffer wat nie lank gemartel is nie. Hoe op aarde kan mens toelaat dat aanvalle en moorde ooit só geklassifiseer word?”

Cameron het voorts gesê dat landsburgers die reg het om hul grond en geliefdes te beveilig binne die wetlike raamwerk.

Die burgerregte-organisasie het ook vandeesweek aangekondig dat hul binnekort ʼn veiligheidsberaad sal aanbied en het opnuut ʼn versoek aan gemeenskappe gerig om by hulle plaaslike buurt- of plaaswagte aan te sluit.

Soortgelyke plasings