AfriForum hou ’n wakende oog oor Standerton se watergehalte


Die gehalte van Standerton se drink- en rioolwater is onlangs deur AfriForum getoets as deel van hul blou-en-groendruppelprojek.
Drinkwatertoetse is gedoen by Thomas Back To Basics Kafee, Laerskool Jeugkrag, die kantore van die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit, Standerton-skougronde, Laerskool Kallie de Haas, Standerton TB Hospitaal, en rivierwatertoetse is gedoen in gedeeltes van die Vaalrivier wat deur die dorp loop.

“Ons kon vasstel dat Standerton se drinkwater skoon is en geen swaarmetale bevat nie, en dat bakterieëvlakke aan gestelde standaarde voldoen. AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets om die grondwetlike regte van Standerton se inwoners te beskerm en te verseker dat hulle van skoon drinkwater voorsien word,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.
Die burgerregte-organisasie het egter sy kommer uitgespreek oor die rioolwater wat nie aan gestelde standaarde voldoen nie. “Ons sal aan rioolaanlegte moet aandag skenk en beplan om so spoedig moontlik verder ondersoek in te stel, die munisipaliteit op terme te plaas, of die lekkasies self te herstel indien moontlik. Ons kan nie toelaat dat onbekwame munisipaliteite ons waterhulpbronne besoedel nie,” sê Leon Enslin, die voorsitter van AfriForum se Standerton-tak.
“Ons versoek Standerton se inwoners om aan AfriForum die mandaat te gee om die watergehalte voortdurend te moniteer,” sê Chris Boshoff, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater en rioolaanlegte. Dié projek fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater (bloudruppel) en behandelde rioolwater (groendruppel) gelewer word.

Soortgelyke plasings