|

AFRIFORUM HOU NASIONALE PATROLLIE

AfriForum het op 12 Maart 2021 ’n nasionale patrollie gehou om sigbaarheid reg oor die land te verhoog. Hierdie nasionale patrollies vind drie maal per jaar plaas.

Duisende AfriForum-lede en instansies soos privaat buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye, gemeenskapspolisiëringsforums, insleepdienste, polisiestasies, plaaslike ondernemings, paramedici en verkeersbeamptes, het aan hierdie patrollie deelgeneem wat dit so groot sukses gemaak het.

Die statistiek op nasionale vlak vir die nasionale patrollie is as volg:

Aantal AfriForum-buurtwaglede betrokke: 2302

Aantal ander deelnemers: 1641

Aantal voertuie: 2229

Aantal kilometers gery: 122945.3 km

Insidente hanteer: 178

Die doel van die nasionale patrollie is om gemeenskappe teen misdaad te mobiliseer. Verder is die oogmerk ook om hoër sigbaarheid en samewerking tussen veiligheidsrolspelers te verbeter op ’n nasionale vlak, sowel as op plaaslike vlak.

“Met misdaad wat drasties toeneem en die regering wat versuim om misdaad op ’n daadwerklike manier aan te spreek is dit belangrik dat daar goeie verhoudings tussen veiligheidstrukture is. Die lae misdaadsyfer wat aangeteken is na afloop van die patrollie is ’n duidelike teken dat hierdie soort patrollies ’n verskil maak,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof in die noordstreek. “AfriForum se buurtwagte is daar om die SAPD se hande sterker te maak en al die aksies wat deur die buurtwagte gedryf word voldoen aan voorgeskrewe riglyne en geskied binne die raamwerk van die wet.”

“Ons kan nie op die regering alleenlik staat maak om na ons veiligheid om te sien nie. Raak by plaaslike veiligheidstrukture in jou omgewing betrokke of sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing,” sê Joseph Renaud AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek.

“Nasionale patrollies dra direk by tot doelgerigte aksies,  samewerking, eensgesindheid asook die verhoging van moraal en in die suidstreek het ons dit eerstehands ervaar. Operasionele suksesse was aan die orde van die aand en goeie verhoudinge tussen AfriForum en die SAPD asook ander instansies is tydens hierdie geleentheid gevestig en ontwikkel. Die statistiek spreek vanself en hierop gaan ons beslis voortbou,” sluit Mark Kuys AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek af.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1 per SMS).

Soortgelyke plasings