|

AfriForum hou nasionale patrollie

AfriForum het op 18 September ’n nasionale patrollie gehou om sigbaarheid reg oor die land vir ’n kort tydperk te verhoog. Dié burgerregteorganisasie is een van die min instansies wat tans hierdie tipe projekte hou.

Duisende AfriForum-lede het in samewerking met ander veiligheidsrolspelers, waaronder verskeie privaat buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye, gemeenskapspolisiëringsforums, insleepdienste, polisiestasies, plaaslike ondernemings, nooddienste en verkeersafdelings, aan hierdie inisiatief deelgeneem om te verseker dat dit ’n reusesukses is.

Die doel van die nasionale patrollie was om gemeenskappe teen misdaad te mobiliseer, asook om hoë sigbaarheid en samewerking tussen veiligheidsrolspelers op sowel nasionale as plaaslike vlak te verbeter.

Ongeveer 2 171 AfriForum-lede en 1 849 ander veiligheidsrolspelers het in 2 099 voertuie deelgeneem en altesaam 88 959 km afgelê. Altesaam 159 voorvalle is tydens die patrollie hanteer.

“Misdaad in die land, en veral in die noordstreek, neem drasties toe. Om hierdie rede hou AfriForum projekte soos die nasionale patrollie om te verseker dat verskillende veiligheidsrolspelers betrek word om vir ’n kort tydperk sigbaarheid in die land te verhoog,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die noordstreek.

“AfriForum loods dié nasionale patrollies om sigbaarheid en samewerking te verbeter en die veiligheid van ons gemeenskappe te verseker,” sê Joseph Renaud, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid vir die sentraalstreek.

“AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak en hul veiligheid self te prioritiseer. Ons kan nie op die staat alleenlik steun om na ons veiligheid om te sien nie. Raak by enige veiligheidsinstansie in jou omgewing betrokke of sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing,” sluit Renaud af.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings