AfriForum: SAID hou hom klaarblyklik blind vir ANC se skuld

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n brief aan die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Edward Kieswetter, geskryf waarin die organisasie duidelikheid vra oor die aangemelde uitstaande belastingskuld van die African National Congress (ANC). Die organisasie is bekommerd oor die pogings wat aangewend is om die ANC se beraamde R100 miljoen uitstaande inkomstebelasting in te vorder.

Volgens mediaberigte is daar wél inkomstebelasting van ANC-werknemers se salarisse verhaal maar nooit aan die SAID oorbetaal nie. Volgens die verslae gebeur dit al sedert 2018. Dit is kommerwekkend dat die SAID nog nie ’n woord hieroor gesê het nie en dit wil voorkom of die ANC voorkeurbehandeling in dié verband kry.

In die lig van hierdie ernstige kwessie het AfriForum die SAID versoek om die volgende vrae te beantwoord:1. Watter stappe het die SAID gedoen om hierdie uitstaande bedrag van die ANC in te vorder?2. Indien die SAID nog nie formele stappe gedoen het nie, verduidelik hoekom nie.3. Kry die ANC voorkeurbehandeling as dit kom by die betaling van inkomstebelasting?

“In ’n tyd waar Suid-Afrikaners sukkel om die mas finansieel op te kom terwyl hulle toenemende belastingdruk ervaar, is dit absoluut onaanvaarbaar om te hoor van die ANC se belastingskuld en dat hulle nie gedruk word om inkomstebelasting te betaal nie – sou die berigte waar wees. As ’n gewone Suid-Afrikaner selfs die geringste berekeningsfout op hul belasting maak sal die SAID aan hulle deur kom klop maar die regerende party kan sowat R100 miljoen in inkomstebelasting skuld en dit word geïgnoreer,” sê Jacques Broodryk, veldtogtebestuurder by AfriForum.

“As die regerende party nie hul belasting betaal nie, sal gewone burgers hulle voorbeeld begin volg. Dit maak die moontlikheid van ’n belastingopstand des te meer werklik,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings