|

AfriForum in hof ná Zimbabwe wil ingryp by Grace-saak

Uitspraak is gister in die Pretoriase hooggeregshof voorbehou waar AfriForum ’n aansoek gebring het om ’n hersieningsaansoek op die Zimbabwiese presidentsvrou in haar land te beteken.

Dit is deel van die proses wat die burgerregte-organisasie begin het om diplomatieke immuniteit wat die Suid-Afrikaanse regering aan Grace Mugabe toegestaan het, tersyde te stel.

Wat ’n gewone “prosedure-aansoek” moes wees om die hof toestemming te vra om Mugabe as party by die saak te voeg en dan die hofstukke op haar te beteken, het ontaard nadat die Zimbabwiese ambassade inderhaas tot die saak wou toetree. Die ambassade voer in hofdokumente aan die stukke kan by hulle afgelewer word aangesien die adres wat AfriForum vir Mugabe verskaf het, nie haar woon- of werksadres is nie.

Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum, het gesê die Kantoor van die President, wat AfriForum as adres aangegee het, is gekies omdat die kanse goed is dat Grace Mugabe dan daarvan kennis sal moet neem.

Hy meen die ambassade se argumente is niks anders as vertragingstaktiek nie en ’n poging om Mugabe se vervolging so lank moontlik uit te stel.

AfriForum het tot die stryd toegetree om se regering se verlening van diplomatieke immuniteit aan Mugabe teen te staan nadat sy Gabriella Engels (20) verlede maand in ’n hotel in Sandton met ’n verlengingskoord aangerand het.

Engels het ’n klag van aanranding teen Mugabe ingedien en AfriForum staan haar in haar regstryd by.

Die voorval het internasionaal opslae gemaak en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê Mugabe moet tot verantwoording geroep word vir haar dade. “Niemand is bo die reg verhewe nie. Ook nie Grace Mugabe nie.”

In regskringe is die algemene gevoel dat Mugabe glad nie vir diplomatieke immuniteit in aanmerking kon kom nie omdat sy glo in Suid-Afrika was om ’n mediese ondersoek te ondergaan. Sy was nie vir amptelike sake (die SAOG-beraad) in die land soos wat voorgehou is nie. En boonop kan diplomatieke immuniteit nie opgeëis word na ’n gewelddadige daad nie.

 

Soortgelyke plasings