|

AfriForum in hof oor Tshwane-begroting

Die burgerregteorganisasie AfriForum was vandag op ’n dringende grondslag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria om die Tshwane-metro se begroting wat deur Mpho Nawa, administrateur van die Tshwane-metro, goedgekeur is, tersyde te stel. Regter Portia Phahlane het bevind dat die saak wel dringend is, maar het uitspraak voorbehou.

Volgens die organisasie het die administrateur buite sy magte opgetree om die finale begroting goed te keur en is die regte prosesse ook nie gevolg om die begroting goed te keur nie. Daar is ’n wesenlike verskil tussen die uitvoerende en wetgewende magte van die raad. Die vermoë om ’n finale begroting goed te keur, lê uitsluitlik by die munisipale raad. Die administrateur kan nie die hele demokratiese proses omseil deur self die begroting goed te keur nie.

“Daar is ’n fundamentele verskil tussen die uitvoerende en die wetlike magte van ’n munisipale raad. Die administrateur is slegs ’n tussentydse voog en kan nie wetlike besluite uitvoer soos om ’n begroting goed te keur nie,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir plaaslikeregeringsake.

Die Grondwet vereis dat die premier moes toetree om te verseker dat daar slegs ’n tussentydse begroting goedgekeur is. Dit sou verseker het dat die metro steeds kon voortgaan om dienste op ’n normale wyse te lewer en hul inkomste wettig kon invorder. Die premier het gefaal om sy plig uit te voer en daarom was AfriForum gedwing om hierdie aansoek voor die hof te bring.

Soortgelyke plasings