|

AfriForum-internskap bemagtig studente

Die AfriForum-internskapprogram vir studente van verskeie AfriForum Jeugtakke is vandag suksesvol afgesluit.

Die program het 25 studente die afgelope twee weke die geleentheid gegee om aan die verskillende bedrywighede, veldtogte en aktiwiteite van dié burgerregte-organisasie blootgestel te word.

Die program is vir die eerste keer in 2014 aangebied en het ten doel om die jeug te verryk deur studente die geleentheid te gee om onder meer self slaggate te vul, vullisterreinoudits te doen, water te toets en deel te wees van herwinningsprojekte.

Na afloop van hul praktiese aktiwiteite saam met AfriForum-streekskoördineerders het die studente verskeie probleme geïdentifiseer en moes hulle voorleggings maak oor moontlike oplossings vir probleme. Die voorleggings moes in die vorm van ’n deeglike projekplan wees, wat bemarking en finansiële beplanning insluit.

Frederick Kotze, wat tans sy meestersgraad in politieke wetenskap aan die Noordwes-universiteit (Potchefstroom-kampus) voltooi, sê dat die internskap vir hom ʼn baie verrykende ervaring was en dat hy baie meer geleer het oor die burgerregte-organisasie en waarvoor dit staan.

Hy het aan Forum Nuus gesê dat dit vir hom belangrik is dat jong mense by AfriForum se jeugstrukture moet aansluit. “Die hele denkraamwerk waarbinne AfriForum funksioneer, selfdoen-aksies gedoen word en gemeenskapsbemagtiging plaasvind, is vir my absoluut uitsonderlik. Totdat jy nie self betrokke raak nie, verstaan mens nie ten volle wat se waarde AfriForum vir jou as gemeenskap, Afrikaner en kultuurgroep bied nie.”

Chané van Schalkwyk van die Universiteit van Stellenbosch (US) en wat deel is van die universiteit se AfriForum Jeug-tak, het gesê dat die internskap vir haar ʼn platform gebied het om te leer en te groei as ʼn individu, terwyl sy ook die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid besef het.

Lize Burger, ook ʼn student by die US, het gesê dat sy besluit het om die internskap te doen na afloop van ʼn taak wat sy oor die burgerregte-organisasie voltooi het vir haar politieke sosiologieklas.

Sy het gesê die internskap het haar uitgedaag om uit haar gemaksone te kom. “Ek is nie die mees uitgesproke mens op aarde nie, so dit was uitdagend om blootgestel te word aan so baie nuwe mense en omstandighede. Ek dink die internskap het my kommunikasievaardighede baie verbeter.”

Clinton Buys, ʼn onderwysstudent aan die Universiteit van Pretoria (UP), wou deur die internskap ook meer leer oor die verskillende komponente van die burgerregte-organisasie. “Ek dink mense het soms ʼn groot wanindruk oor AfriForum en waarvoor hulle werklik staan. Na afloop van dié twee weke het ek geleer hoe groot en divers AfriForum is en dit was inspirerend en bemagtigend om te sien hoe aktief betrokke AfriForum-takke in hulle gemeenskappe is.”

Hy het voorts gesê dat die internskap sy kommunikasievaardighede en tydsbestuur verbeter het. “Ek sal enige jongmens wat meer wil leer oor hul omgewing, gemeenskappe en goeie waardes aanraai om die program te volg.”

Soortgelyke plasings