|

AfriForum-internskap eindig met suksesvolle voorleggings

 

Deur Jhua-nine Wyrley-Birch.

Die AfriForum internskapprogram vir studente van verskeie AfriForum Jeugtakke is vandag suksesvol gesluit. AfriForum het die afgelope twee weke vir 12 studente die geleentheid gegee om saam met die koördineerders van AfriForum verskeie munisipalieite se werk te doen in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Gauteng.

Na afloop van hul praktiese aktiwiteite het die studente verskeie probleme geïdentifiseer en moes hulle ’n voorlegging voorberei waar hulle met moontlike oplossings vir probleme vorendag moet kom. Die voorleggings moes in die vorm van ’n deeglike projekplan wees, wat bemarking en finansiële beplanning insluit.

Die studente het vier dae tyd gehad om aan hul voorleggings te werk en het dit vandag aan hul provinsiale koördineerders asook Henk Mareé, die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, aangebied.

Verskillende kategorieë van die werk wat AfriForum doen, is gedek.

Bernard Peters van AfriForum Jeug se Maties-tak het saam met Paul Maritz van die NWU-kampus se jeugtak gewerk en het verantwoording in Suid-Afrika as onderwerp aangepak. “Ek was baie opgewonde oor die voorlegging omdat ek voel ons idee word ernstig opgeneem en dat daar ’n geleentheid vir ons is om eendag deur AfriForum ’n verskil te maak,” het Peters gesê.

Lambert De Klerk en Pieter Strauss van die Kovsies-tak het die onwettige strooi van rommel aangepak, terwyl Marthinus Jacobs en Liezl Aylward van die Tukkies-tak ’n initiatief oor kultuurskatte voorgelê het.

Jacobs het gesê hy was ’n bietjie op sy senuwees voor die voorlegging, maar sy passie vir sy projek het hom meer selfvertroue gegee en hy hoop dat dit eendag kan realiseer.

Die voorleggings sal deur die koördineerders bestudeer word en indien dit volhoubaar en uitvoorbaar is, kan van die studente se projekte moontlik eendag in werking gestel word.

 

 

Soortgelyke plasings