|

AfriForum internskap vir 2016 skop amptelik af

Die burgerregte-organisasie AfriForum se internskapprogram vir studente van verskeie AfriForum Jeugtakke het vandeesweek amptelik afgeskop.

Volgens Marike van As, woordvoerder van AfriForum Jeug Kovsies, het die internskap ten doel om ʼn verrykende ervaring te wees wat studente blootstel aan die verskillende bedrywighede van dié burgerregte-organisasie.

“Ons wil jongmense met die nodige vaardighede toerus om ʼn daadwerklike verskil in hul gemeenskappe te maak,” meen van As.

Tydens die internskap sal studente saam met AfriForum-streekskoördineerders werk, waar hulle onder meer die geleentheid sal kry om self slaggate te vul, vullisterreinoudits te doen, water te toets en deel te wees van herwinningsprojekte.

Na afloop van hul praktiese aktiwiteite sal die studente ʼn voorlegging voorberei oor kwessies wat hulle tydens die internskap geïdentifiseer het. Dié voorleggings moet in die vorm van ’n deeglike projekplan wees, wat bemarkings- en finansiële beplanning insluit.

Ander vaardighede soos debatvoering en media-opleiding is ook deel van die 10 dag-program.

Roelof van der Walt, voorsitter van AfriForum Jeug in Wellington, het aan Forum Nuus gesê dat hy besluit het om aan die internskap deel te neem om meer oor AfriForum se landswye projekte te leer. Boonop sien hy ook uit daarna om blootgestel te word aan die verskillende afdelings van AfriForum en om sy media-vaardighede op te skerp.

Anne-May Swanepoel, ʼn student aan die Noordwes Universiteit sê dat sy daarna uitsien om nuwe vaardighede te leer en mense te ontmoet.

“Omdat ek arbeidsverhoudinge studeer beskou ek AfriForum en die Solidariteit beweging as die perfekte platform vir blootstelling in my studierigting. Ek sien verskriklik baie uit.”

Die AfriForum internskap sal duur tot die 14e Julie.

Soortgelyke plasings