|

AfriForum internskapstudente woeker in hul eerste week

Studente wat vanjaar deel van die burgerregtewaghond AfriForum se internskapprogram is, het vandeesweek gewoeker en aan verskeie landswye selfdoen- en protesaksies deelgeneem.

Dié internskapprogram is vir die eerste keer in 2014 gehou en het ten doel om die jeug te verryk deur studente aan die verskillende bedrywighede van dié burgerregte-organisasie blootstel.

Tydens die eerste week het studente die geleentheid gehad om saam met AfriForum-streekskoördineerders te werk. Van die projekte wat hulle aangepak het, sluit die volgende in:

  • Studente in Pretoria het in samewerking met lede van die Apiesrivier-tak sowat 10kg vlieë, rioolafval en ʼn memorandum by die Tshwane Munisipaliteit se hoofkantoor oorhandig.
  • Studente het in samewerking met AfriForum Jeug ʼn bewusmakingsaksie in Bloemfontein gehou om die plaaslike gemeenskap oor veiligheid in te lig. As deel van dié aksie is verskeie slaggate herstel en inligtingspamflette oor die buurtwag is aan motoriste uitgedeel.
  • Internskapstudente het in samewerking met AfriForum se Primrose-tak dié dorp se watergehalte getoets en die plaaslike vullisterrein besoek.
  • Studente in Vryburg het met die bestuurder van die Naledi Munisipaliteit vergader om hul versoek met betrekking tot die opknapping van die sekuriteit by die Groot Trek monumente te bespreek, nadat monumente op die perseel gevandaliseer is en omheinende tralies gesteel is. Daar is tydens dié vergadering ooreengekom dat ’n muur om die monumente gebou sal word.
  • Die AfriForum-tak in Delareyville het in samewerking met die internskapstudente met die dorp se direkteur van omgewingsake en direkteur van behuising vergader om die agteruitgang van dié dorp se vullisterein te bespreek.

Clifford de Vries, ʼn student van die Noordwes Universiteit se Potchefstroom kampus het aan Forum Nuus gesê dat hy dit interessant gevind het om eerstehands te ervaar wat AfriForum-taklede doen. Hy het vandeesweek deelgeneem aan twee vullisterreinoudits in Barkly-Oos en Cradock in die Oos-Kaap.

“Dit was lekker gewees om fisies deel te neem aan ʼn AfriForum-aksie en inspirerend om te sien dat mense self intree en probleme aanpak. AfriForum het my geleer dat ons nie kan terugsit en wag vir munisipaliteite om hul pligte na te kom nie, maar eerder self ʼn verskil moet probeer maak.”

Mizanne van Niekerk, ʼn student aan die Universiteit van Pretoria wat deel was van die Vrystaatse-internskapspan, sê sy het dit baie geniet om te leer hoe AfriForum se plaaslike takke funksioneer.

“My ervaring was baie lekker en insiggewend. Ek het dit geniet om aktief betrokke te wees by slaggatvul-aksies en vullisterreinoudits en ook om takvergaderings by te woon.”

Na afloop van hul praktiese aktiwiteite sal dié studente volgende week ʼn voorlegging voorberei oor kwessies wat hulle tydens die internskap geïdentifiseer het. Dié voorleggings moet in die vorm van ’n deeglike projekplan wees, wat bemarkings- en finansiële beplanning insluit.

Die AfriForum internskap duur tot 14 Julie.

Soortgelyke plasings