|

AfriForum Jeug behaal oorwinning vir groep NSFAS-studente

AfriForum Jeug behaal oorwinning vir groep NSFAS-studente

AfriForum Jeug het vandag ’n oorwinning oor die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS) behaal vir ’n groep van die studente wat die organisasie om hulp genader het ná NSFAS in 2020 sowat 5 000 studente se befondsing teruggetrek het.

AfriForum Jeug se saak teen NSFAS is op 14 April 2021 in die Wes-Kaapse Hooggeregshof in Kaapstad aangehoor.

NSFAS het beweer dat die studente oneerlik was met hulle aansoeke en het ook SMS-boodskappe aan die studente gestuur waarin beweer is dat inligting van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ontvang is wat aandui dat die studente se huishoudelike inkomste meer as R350 000 per jaar is. In die hof is erken dat NSFAS nie die inligting van die SAID ontvang het nie, maar wel van ’n kredietagentskap wat bloot huishoudelike inkomsteskattings gemaak het. Die saak is deur regter Mark Sher aangehoor en hy het hierdie bekentenis as uiters kommerwekkend beskryf.

AfriForum Jeug is egter teleurgesteld dat net sommige studente weens hierdie uitspraak verligting sal kry en nie die hele groep wat deur hierdie aanvanklike besluit benadeel is nie. “AfriForum Jeug moedig die publiek aan om privaat beursskemas te ondersteun soos dié van AfriForum Jeug en Solidariteit Helpende Hand, aangesien dit duidelik is dat staatsondersteunde fondse die studente, soos in hierdie geval, lelik in die steek kan laat,” sê Bernard Pieters, bestuurder van AfriForum Jeug.

“Met staatsverval is instellings soos NSFAS nie bevoeg om met die toekoms van die Suid-Afrikaanse jeug vertrou te word nie. Gemeenskappe moet self verantwoordelikheid vir hulle jongmense se ontwikkeling aanvaar,” voeg Pieters by.

Raak vandag nog by die kampusse se jeugstrukture betrokke en help om ’n verskil te maak: Stuur ’n e-pos aan jeug@afriforum.co.za of SMS “Jeug” na 32687 (R1).

Soortgelyke plasings