AfriForum Jeug bied pot-en-pons-kompetisie ter behoud van Sakkie se Arkie aan


AfriForum Jeug het op 30 Junie 2018 ’n pot-en-pons-kompetisie by Sakkie se Arkie in Upington aangebied ten einde die behoud van hierdie rivierboot te probeer verseker. Dít volg nadat die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit die grond van waar af hierdie boot bedryf word, na bewering verkoop het.
Volgens die munisipaliteit moes die boot op 30 Junie vir die laaste keer vaar, maar dit is nog onduidelik wat vorentoe gaan gebeur.

“Die gemeenskap voel sterk oor die behoud van die Arkie. Dit is ’n toeristeaantreklikheid vir die plaaslike, nasionale en internasionale gemeenskap. Die sluiting kan groot skade aan die dorp se toerismebedryf aanrig. Sakkie se Arkie is al ’n instelling vir die gemeenskap in Upington,” sê Marike van As, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

Volgens Sakkie Spangenberg, eienaar van Sakkie se Arkie, word hy al vir jare deur die munisipaliteit verhinder om sy besigheid uit te brei en hierdie is die laaste terugslag. “Ek versoek ’n vergadering met die munisipaliteit ten einde ’n haalbare oplossing te vind om te verseker dat die Arkie vir die publiek oopbly,” sê Spangenberg.
Wimpie Steenkamp, Marlize Moller en Jaco Moller se span, back4more, het die pot-en-pons-kompetisie gewen. Altesaam 14 spanne uit die gemeenskap het aan dié kompetisie deelgeneem.
AfriForum Jeug moedig die publiek aan om die AfriForum Upington-tak en die Save Sakkie se Arkie Facebook-bladsye dop te hou vir meer inligting.
AfriForum bedank ook Johann Maritz en Nico Jansen vir die hout, Oranje Rivier Wynkelders vir die wyn, Spar en Pick n Pay vir die groente en Avroy Shlain Upington vir die geskenke.

Soortgelyke plasings