|

AFRIFORUM JEUG BRING PAIA-AANSOEK OOR TAALBELEID BY MATIES

AfriForum Jeug het na die gebeure by die Universiteit Stellenbosch rakende die taalbeleid en die gebruik van Afrikaans in koshuise ’n PAIA-aansoek gebring. Die aansoek fokus spesifiek op instruksies wat aan studente in leiersposisies gegee is oor die gebruik van Afrikaans, hoe dit uitgevoer word en wie die instruksies gee.

“Dit is kommerwekkend dat studente selfs in koshuisgange verbied word om hul moedertaal te praat. Universiteite is veronderstel om ’n veilige omgewing te wees waar jongmense kan bou aan hulle toekoms en hulle eie identiteit ontwikkel. Dit kan egter nie gebeur as hulle nie eens toegelaat word om hulle eie taal te praat nie,” sê Bernard Pieters, bestuurder van AfriForum Jeug.

“Ons het ook ʼn brief gerig aan prof. Wim de Villiers wat ons posisie oor die insident duidelik maak, maar ons het ook oplossings gebied vir die uitdagings wat die US tans ervaar,” sluit Pieters af.

Die Universiteit Stellenbosch het tot 10 April 2021 geleentheid om te reageer op AfriForum Jeug se aansoek.

Indien jy meer wil weet of betrokke wil raak by AfriForum Jeug se tersiêre of dorpstrukture kan jy ’n e-pos stuur na jeug@afriforum.co.za met jou kampus, dorp of stad se naam as onderwerp. Kom ons werk saam om gelykheid tussen mense en groepe te bevorder eerder as om haat te kweek. Kom ons maak jonkwees weer lekker vir almal.

Soortgelyke plasings