|

AfriForum Jeug dien klag teen SUT-student in ná rassistiese dreigement

AfriForum Jeug het op 20 Februarie 2020 ’n klag van aanhitsing tot geweld en rassisme teen ’n student van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) by die Parkweg-polisiestasie in Bloemfontein ingedien. Dié student, Boitumelo Mokobe, het op sosiale media gedreig het om vyf wit studente te verbrand nadat die radiostasie OFM die studente as gewelddadig en verwoestend beskryf het.

“Ons eis dat die SUT-bestuur onmiddellik teen studente optree wat hulself aan rassisme skuldig maak en dreig om ander seer te maak. Dit is onaanvaarbaar dat studente se veiligheid op kampusse deur medestudente bedreig word,” sê Chantelle du Preez, AfriForum Jeug se koördineerder vir tersiêre instellings.

AfriForum Jeug het ook ’n skrywe gerig aan prof. Henk de Jager, visekanselier en hoof van die SUT, om te eis dat die nodige dissiplinêre optrede teen dié studente ingestel word. AfriForum Jeug eis ook dat die universiteit die nodige veiligheidsmaatreëls instel om die veiligheid van studente en personeel te verseker. “Ons verwelkom die interdik wat die universiteit verkry het en ten volle toepas, en hoop dat daar teenoor enige studente opgetree sal word wat dié interdik verontagsaam ,” sê Du Preez.

AfriForum Jeug sal aanhou om druk toe te pas om studente se reg te beskerm om in ’n veilige omgewing klas by te woon sonder dat betogende studente kampusse ontwrig.

Soortgelyke plasings