|

AfriForum Jeug eis optrede van UV-bestuur ná ontwrigting by studenteregistrasie

AfriForum Jeug het vandag ’n skrywe aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) se bestuur gerig waarin optrede teen studenteraadslede (SR) en ander betogers geëis word vanweë die feit dat die 2020-registrasieproses aanhoudend ontwrig word. Dít volg nadat die SR, lede van die South African Students’ Congress (Sasco) en EFF-studenteleiers verlede week begin betoog het en nog geen voorsorgmaatreëls getref is om die betoging te beëindig nie. Personeel wat studente met hul registrasie help, word geïntimideer en daar word op hulle geskree. Sekuriteitsbeamptes moes hierdie personeel na hul voertuie vergesel.

“AfriForum Jeug het ’n dringende skrywe aan Pura Mgolombane, die dekaan van studentesake, gerig waarin ons vra dat die bestuur onmiddellik optree teen die betogers, wat deur die SR gelei word, en dat die nodige voorsorgmaatreëls getref word om studente en personeel se veiligheid te verseker,” sê Chantelle du Preez, nasionale koördineerder vir AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug het al verskeie vergaderings met die UV-bestuur gehad om te verseker dat die nodige veiligheidsmaatreëls getref word om sulke gebeure te voorkom en om hulp in dié verband aan te bied. Die UV-bestuur sê egter keer op keer dat hulle dit sal kan hanteer.

“AfriForum se veiligheidspan is op ’n gereedheidsgrondslag om lede en niebetogende studente by te staan, sou die universiteit nie bevoeg wees om hul studente se veiligheid te waarborg nie,” sê Joseph Renaud, AfriForum se hoof vir gemeenskapsveiligheid in die sentraalstreek.

AfriForum Jeug sal aanhou om druk op universiteitsbesture toe te pas om studente en personeellede se reg tot veiligheid op kampus te verseker.

Die UV-bestuur het tot 29 Januarie 2020 om 12:00 om op AfriForum Jeug se skrywe te reageer.

Soortgelyke plasings