|

AfriForum Jeug gee Afrikaans ’n hupstoot met nuwe beurskompetisie

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

As deel van AfriForum Jeug se nasionale veldtog om Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite te behou, het dié jeugorganisasie vandeesweek ’n kompetisie geloods waar vier studente elk ’n studiebeurs ter waarde van R20 000 kan wen.

Dié beurse sal onderskeidelik aan Afrikaanse studente van die Universiteit van Pretoria, Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Stellenbosch toegeken word.

“Met dié beurs wil ons studente beloon wat in hul moedertaal Afrikaans studeer en hul verder aanmoedig om hul studies in dié taal voort te sit,” het Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale projekkoördineerder, gesê.

“AfriForum Jeug het sy veldtog vir die behoud van Afrikaans op kampusse begin deur studente daarvan bewus te maak dat dit hul grondwetlike reg is om onderrig in hul moedertaal te ontvang. Studente moet die waarde daarvan besef en die vryheid hê om in Afrikaans te kan studeer,” het Mostert gesê.

Prof. Hermann Giliomee, skrywer en historikus, het aan Forum Nuus gesê dat dit belangrik is om alles moontlik te doen om Afrikaans as ʼn onderrigtaal te behou en bevorder. Hy meen die beurskompetisie is die perfekte inisiatief om aan skole en universiteitsowerhede te bewys dat daar steeds ʼn aanvraag is vir Afrikaans as onderrigtaal.

“Daar is ʼn baie belangrike alliansie tussen skole en universiteite, veral rakende taal. Hierdie tipe kompetisie sal beslis positief vir Afrikaanse skole wees omdat dit dui op ʼn gewaarborgde aanvraag na verdere Afrikaanse onderrig.”

Prof. Wannie Carstens, professor in Afrikaans en Nederlands en direkteur van die sentrum vir akademiese en professionele taalpraktyk by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, sê die kompetisie is ’n kragtige manier om studente aan te moedig om voort te gaan met hul studies in Afrikaans.

Hy sê voorts dat dit hom as raadslid by die Universiteit van Stellenbosch (US) se argument versterk dat daar ʼn behoefte is vir Afrikaans as onderrigtaal.

“Wanneer mense bereid is om finansieel te belê in iets, dui dit op die belangrikheid en waarde daarvan. Hierdie kompetisie is ʼn fantastiese idee en ek glo dit sal beslis studente aanmoedig om met hul studies in Afrikaans voort te gaan.”

AfriForum Jeug is ook van mening dat studente nie voldoende oor hul grondwetlike regte ingelig is nie en dat universiteitsbesture studente se regte skend deur eentaligheid in ’n diverse samelewing te probeer afdwing en toepas. Dié jeugorganisasie plaas elke week ’n nuwe pamflet op hul webtuiste, wat ook op kampusse uitgedeel word om studente oor hul grondwetlike regte in te lig.

Bernard Pieters, ʼn nagraadse student in geologie aan die US en AfriForum Jeug-koördineerder vir dié kampus, hoop dat hierdie kompetisie vir studente wat reeds in Afrikaans studeer sal aanmoedig en laat besef hoe bevoorreg hulle is indien die geleentheid steeds vir hulle bestaan om tersiêre onderrig in hul moedertaal te ontvang.

“Ek het, soos baie ander studente, slegs die geleentheid gehad om in Afrikaans klas te loop tydens my eerstejaar op universiteit. Na vyf jaar van skool gaan in Afrikaans het ek veral gesukkel om vakke soos chemie onder die knie te kry toe ek in my tweede jaar in Engels daarmee moes voortgaan.”

Hy sê voorts dat hy baie tyd en moeite kon spaar indien hy in Afrikaans kon klas kry. Engels het beperk hoe hy homself in toetse en eksamens kon uitdruk. “Al het ek die werk geken en verstaan, was daar soms een term wat ek in Engels vergeet het wat veroorsaak het dat ek ʼn swakker of eenvoudiger verduideliking moes gee. Om nie in Afrikaans te studeer nie het my soms punte gekos.”

AfriForum Jeug wil alle ingeskrewe Afrikaanse studente aanmoedig om deel te neem deur hul naam en die naam van die kampus waar hulle studeer na 32687 te SMS (R1). Die wenners sal lukraak gekies word en op 16 Mei 2016 op die onderskeie kampusse aangekondig word.

 

Soortgelyke plasings