|

AfriForum Jeug kry wind van voor by Maties

AfriForum Jeug meen die Universiteit van Stellenbosch (US) is daarop uit om sy kandidate in die SR-verkiesing te teiken nadat hulle vandag aangekla is vir die verbreking van verskeie SR-verkiesingsregulasies.

Luidens die klag het AfriForum Jeug ʼn onwettige verkiesingsveldtog gedryf deur onder meer ʼn beurskompetisie aan te bied en plakkate op te sit wat volgens die US se studentegrondwet en SR- verkiesingsreëls nadelig is teenoor ander kandidate. Die kandidate word ook daarvan beskuldig dat hulle nie aan die verpligte hoeveelheid koukus-vergaderings deelgeneem het nie.

AfriForum Jeug sê dat hul tot dusver geen verkiesingsreëls oortree het nie. “Ons ervaar positiewe terugvoer van die meerderheid van die studente by die US, ondanks die koukus-vergadering wat verlede week Donderdag op kampus plaasgevind het en waar gemoedere hoog geloop het,” het ’n woordvoerder gesê.

Selmie Crous, ʼn tweedejaar LLB-student en AfriForum Jeug-kandidaat, het aan Forum Nuus gesê dat sekere drukgroepe uit hul pad gegaan het tydens dié vergadering om AfriForum Jeug se kandidate aan te val.

Sy het verduidelik dat die US se studentegrondwet en SR- verkiesingsreëls bepaal dat kandidate se menswaardigheid erken moet word, dat hul in die taal van hul keuse vrae mag antwoord en dat daar nie valse beskuldigings teen kandidate gemaak mag word tydens koukus nie. “Dieselfde studente daag by elke koukus op en val ons kandidate oor presies dieselfde kwessies aan. Koukus is veronderstel om ʼn geleentheid te wees waar kandidate hul planne kan deel en vrae kan beantwoord sodat studente kan vasstel dat hulle die regte besluit maak deur vir hulle te stem. Ons het tot dusver nog geen geleentheid gehad om dit te doen nie,” meen Crous.

AfriForum Jeug sal môre om 16:00 in die studentehof verskyn en volgens die Jeugvleuel is dit nog nie duidelik of die verkiesing weens die klagtes teen die kandidate uitgestel sal word nie.

Die uitbring van stemme is veronderstel om môre op 2 Augustus by die US te begin, terwyl die wenners op 10 Augustus aangekondig moet word.

AfriForum Jeug het opnuut ’n beroep op US-studente gedoen om aan die verkiesing deel te neem om te verseker dat hul stem in die toekoms gehoor sal word en dat na hul belange omgesien sal word.

Volgens die organisasie het die omstandighede op universiteitskampusse die afgelope jaar drasties verander tot so ’n mate dat die belange van radikale groepe ten koste van ander studente voorop gestel word. “Studente vir wie kwessies soos Afrikaans, kultuur en gesonde studente-tradisies belangrik is, sal vir hul regte moet begin opstaan.”

Soortgelyke plasings