| |

AFRIFORUM JEUG LEWER KOMMENTAAR OP VOORGESTELDE TAALBELEID VAN UNIVERSITEIT STELLENBOSCH

AfriForum Jeug het vandag in ’n skrywe aan prof. Wim de Villiers kommentaar gelewer oor die voorgestelde US-taalbeleid. AfriForum Jeug is sedert 2015 aktief op die US-kampus en het toe reeds begin om aanspraak te maak op gelyke en inklusiewe taalregte en meertaligheid.

Die studenteorganisasie eis onder andere dat beide Afrikaans en Engels ten volle as voorgraadse taal gebruik word. Praktiese oplossings om hierdie model stabiel te bestuur word ook gegee. Die studenteorganisasie is ook van mening dat indien die behoefte daar is, ’n addisionele taal vir onderrigdoeleindes ingestel kan word soos IsiXhosa.

Kommentaar op die beleid se tekortkominge word ook in die studenteorganisasie se dokument gelewer.

“Die beleid is so opgestel dat indien die US slegs twee vakke in Afrikaans aanbied, die US steeds volgens sy eie reëls hulself as meertalig kan beskryf,” sê Bernard Pieters, bestuurder van AfriForum Jeug. “Daar is geen praktiese oplossings, doelwitte of mikpunte in die US se voorgestelde taalbeleid nie, maar dit dien slegs as lippetaal vir diegene wat nie die dokument self lees nie.”

Indien jy meer wil weet of betrokke wil raak by AfriForum Jeug se tersiêre of dorpstrukture kan jy ’n e-pos stuur na jeug@afriforum.co.za, met jou kampus, dorp of stad se naam as onderwerp.

Soortgelyke plasings