|

AfriForum Jeug: Maties gere-koloniseer onder nuwe taalbeleid

AfriForum Jeug neem met spyt kennis dat die Universiteit van Stellenbosch se raad die feite, historiese konteks en wêreldwye voorbeelde nie in ag geneem het in hul besluit om Afrikaans af te gradeer na ʼn tweede klas taal nie.  

“Die taalbeleid is só geskryf dat selfs indien so min as twee klasse by die US in Afrikaans aangebied word dit basies voldoen aan alle aspekte van die nuwe beleid. Die US sê dat hulle meertaligheid wil bevorder, maar deur die Afrikaanse aanbod te verminder en af te grader, voldoen verseker nie aan die woordeboekdefinisie van ‘bevorder’ nie,” sê Bernard Pieters, bestuurder by AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug is sedert 2010 reeds betrokke by die US se taalstryd. Daar is vir jare vergaderings gehou en voorleggings gemaak wat op dowe ore geval het. AfriForum Jeug het ook talle hofsake gedryf wat later deur GelykeKanse voortgesit is. Die ses studente wat op die oorspronklike hofstukke, wat in die Grondwetlike Hof gedraai het, as applikante gelys is, was almal AfriForum Jeug-lede, waaronder ook Pieters self.

Die US onderneem in die nuwe taalbeleid ook dat die drie amptelike tale van die Wes-Kaap gebruik en bevorder sal word, maar weerspreek hulself met die volgende: “Daarbenewens moet die taal wat in die studentegemeenskappe (koshuise en privaatorganisasiewyke) gebruik word almal insluit en in staat stel om deel te neem.” Pieters is van mening dat hierdie enkele sin gebruik kan word om die eksklusiewe gebruik van Engels by en in alle fasette van die US se struktuur te verdedig, sou dit in regsaksie aangespreek word.

“Die stryd om Afrikaans as gelyke taal by Maties te behou, is verby. Ons as AfriForum Jeug sal onsself nou daarop toespits om te fokus op die behoud van Afrikaans met die doel om dit in die toekoms weer as gelyke taal te herstel onder ’n bestuur wat fokus op akademiese vooruitgang eerder as politieke ideologieë,” sê Pieters verder. “Dit is hartseer dat die grootste stryd vir die jeug in die sogenaamde nuwe Suid-Afrika is om as gelykes deur die US-bestuur behandel te word.”

Raak vandag nog by die kampusse se jeugstrukture betrokke en help om ’n verskil te maak: Stuur ’n e-pos aan jeug@afriforum.co.za of SMS “Maties” na 32687 (R1).

Soortgelyke plasings