|

AFRIFORUM JEUG ONDERSTEUN BYNA 100 STUDENTE WAT NSFAS-BEFONDSING VERLOOR

AfriForum Jeug het die regsfirma Hurter Spies Ing. genader nadat 5 000 tersiêre studente se NSFAS-befondsing vir die 2020 akademiese jaar gekanselleer is. AfriForum Jeug gaan die byna 100 studente wat die organisasie om hierdie rede gekontak het op 26 Februarie 2021 in die hof verteenwoordig.

Ná gesprekvoering met NSFAS was die beursskema baie behulpsaam en kon AfriForum Jeug terugvoer gee aan studente wat hul befondsing verloor het. Gebaseer op hierdie inligting van NSFAS kon die jeugorganisasie die studente inlig oor watter inligting benodig word om hul saak te hersien. AfriForum Jeug het vervolgens alle studente wat hul befondsing verloor het ’n geleentheid gegee om die organisasie te kontak voordat die hofaansoek op 26 Februarie aangehoor word.

“Ons hoop dat hierdie saak tot ’n verstandhouding tussen AfriForum en NSFAS sal lei sodat hierdie tipe geskille in die toekoms eerder buite die hof opgelos sal word. Die uitgerekte hofprosedures lei tot groot onsekerheid onder studente wat tans nie weet of hulle vanjaar verder sal kan studeer nie,” sê Bernard Pieters, bestuurder by AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug beoog met hierdie hofsaak om sowel sy lede as die studente wat die organisasie privaat genader het by te staan. AfriForum Jeug het NSFAS reeds verlede jaar hieroor gekontak en poog nou om hierdie dispuut in die hof uit te klaar.

AfriForum Jeug veg al langer as tien jaar vir die regte van studente en jongmense. Raak vandag nog by die organisasie se jeugstrukture betrokke en help sodoende om ’n verskil te maak: Stuur ’n e-pos na jeug@afriforum.co.za of SMS “Jeug” na 32687 (R1).

Soortgelyke plasings