|

AfriForum Jeug sê Afrikaans sal op Tuks bly

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Afrikaanse studente het vandag by die Universiteit van Pretoria vasgestaan en op Afrikaans as onderrigmedium aangedring, ondanks ernstige voorvalle van geweldpleging deur die EFF.

Lede van AfriForum Jeug was ook op die kampus verteenwoordig.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het honderde Afrikaanse studente toegespreek na afloop van dié gewelddadige protesaksie wat die EFF aangevuur is.

“Ons is nie hier om rassekonflik te veroorsaak nie, ons vra eenvoudig vir vrede en die behoud van Afrikaans op die Universiteit van Pretoria se kampus,” het Kriel gesê.

Die EFF se jeuggroep het in opstand gekom teen die behoud van Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit van Pretoria in ‘n protesaksie genaamd #BlackMonday. Dit spruit voort uit AfriForum Jeug se optog verlede week waarby duisende studente opgestaan het teen die EFF se eis dat Afrikaans afgeskaf moet word.

AfriForum Jeug het verlede week ’n memorandum aan prof. Niek Grove, registrateur van UP, oorhandig, waarna lede van EFF oproerig geraak het. Die polisie moes ingeroep word. Studente is gearresteer en het vandag in die Pretoriase landdroshof verskyn.

Kriel het gesê: “Ons gaan nie rondgestamp of verneder word nie en ons gaan nie soos die EFF optree nie. Ons bly beskaafd en behou die morele hoë grond. ‘n Belangrike beginsel by AfriForum is dat ons nie aggressors is nie, maar eerder bewaarders van vrede.”

Gerrit Engelbrecht, ‘n finale jaarstudent in siviele ingenieurswese, was in ’n voorval betrokke waar hy met ’n gebreekte besemstok teen die voorkop getref is. Hy moes steke kry.

“My vriende en mense om my het oproerig geraak nadat hulle my bebloede gesig gesien het. Dit was moeilik om nie kwaad te word nie, maar ons het nie terugbaklei nie.”

Hy het aan Forum Nuus gesê dat dit vir hom lekker was dat daar vandag ‘n gevoel van samehorigheid op die kampus was en dat iemand bereid is om op te staan vir Afrikaanse studente by UP. “Ek het besluit om deel te wees van vandag omdat Afrikaans deel is van die universiteit asook my eie geskiedenis.”

Hy het EFF-lede se gedrag as gewelddadig beskryf waar hulle lesinglokale betree en klasse ontwrig het. Hy het erken dat hoewel sekuriteit die studente goed beheer het, van hulle vir hul veiligheid gevrees het.

“Ons wil nie hê dat hierdie in ‘n rassegeveg moet ontaard nie, maar dit is tyd dat ons opstaan vir ons regte en ons taal.”

AfriForum Jeug ontmoet môre 11:00 met die Studenteraad om die taalbeleid en die pad vorentoe te bespreek.

 

 

Soortgelyke plasings