AfriForum Jeug se Kovsie-tak bou aan Afrikaans


AfriForum Jeug se Kovsie-tak het vandag by die Bloemgate-sentrum in Bloemfontein blokke, met Afrikaanse woorde daarop gedruk, opgerig om hul toewyding aan die opbou van Afrikaans uit te beeld. Die studente het ook koeksisters verkoop om fondse in te samel vir die organisasie se studiefonds.
Die doel van dié aksie was om bewusmaking te skep vir wanneer die Hoogste Hof van Appèl môre, op 17 Februarie 2017, gaan beslis of die Vrystaatse hoë hof se uitspraak dat die Universiteit van die Vrystaat (UV) se nuwe taalbeleid ongrondwetlik is, staande bly.
AfriForum Jeug het ook in samewerking met Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum ’n studiefonds gestig om huidige en voornemende Afrikaanse studente aan die Universiteite van die Vrystaat, Stellenbosch, Pretoria en die Noordwes Universiteit met behulp van skenkings in staat te stel om te studeer. Studente wat deur dié fonds gehelp word, sal uitsluitlik op grond van meriete gekeur word.

“Ons glo dat die toekoms van Afrikaans in die hande is van die gemeenskap wat die taal praat en daarin onderrig wil ontvang. Daarom moedig ons mense aan om betrokke te raak deur die hofverrigtinge by te woon en ons studiefonds te ondersteun,” sê Michelle Peens, voorsitter van AfriForum Jeug se Kovsie-tak.

AfriForum Jeug moedig die publiek, en veral studente wat aan die UV studeer, aan om die hofverrigtinge by te woon by die appèlhofkompleks in Bloemfontein.
Datum:            17 Februarie 2017
Vertrekpunt:    Parkeerarea langs Veritas, UV-kampus (saamrygeleenthede na die hof is beskikbaar)
Tyd:                 8:30 vir 8:45
Die eerste 30 studente sal ’n gratis T-hemp, koffie en ’n kolwyntjie ontvang.

Soortgelyke plasings