|

AfriForum Jeug se Maties-tak bemagtig jong dames deur selfverdedigingsklasse

 

Die burgerregte-organisasie AfriForum se jeugtak by die Universiteit van Stellenbosch (US) het vandeesweek selfverdedigingsklasse aangebied wat daarop gemik is om jong dames te bemagtig om hulself teen geweld te beskerm.

Volgens Bernard Pieters, AfriForum se kampuskoördineerder by die US, het die jeugtak besluit om die klasse aan te bied in die lig van vanjaar se gewelddadige protesaksies en gebrek aan sekuriteit by dameskoshuise.

“Dit het onder ons aandag gekom dat hoewel sekuriteit weens vanjaar se protesaksies op kampus opgeskerp is, dit nie die geval by dameskoshuise was nie. Die universiteit se benadering tot veiligheid is om seminare en inligtingsessies op kampus te hou. Hoewel hierdie sessies insiggewend kan wees, kan dit nie dames werklik bemagtig en beskerm wanneer hulle nie op kampus is nie.”

Die jeugtak het dus twee selfverdedigingsklasse in samewerking met Fortis Professional Active Defense Solutions aangebied. Mnr. Rian Coetzee, wat die klasse gefasiliteer het, het aan Forum Nuus gesê dat dit absoluut krities is vir dames om te leer hoe om hulself te verdedig, veral in die lig van misdaadsyfers wat toenemend in die land styg. Hy sê die belangrikste ding vir dames om te onthou, is om nooit ʼn “slagoffermentaliteit” te hê nie.

“Selfverdediging begin by ʼn persoon se ingesteldheid. Dames is geneig om vooraf te besluit dat hulle  ʼn magtelose slagoffer is. Met die regte ingesteldheid, hoë bewustheidsvlakke en basiese verdedigingsbewegings kan enige vrou, ongeag haar grootte, haar kanse verminder om ʼn slagoffer van geweld te wees.”

Hy het voorts gesê dat die klasse goed afgeloop het en dat die dames aktief deelgeneem het. “Dit is vir my belangrik dat dames by die klasse uitstap met ʼn gevoel van bemagtiging en selfvertroue.”

Netanje van Jaarsveld, ʼn student aan die US, het gesê dat sy die klasse baie geniet het en deelgeneem het omdat sy voel dat alle dames hulself moet kan beveilig.

“Ek het besef dat enigiemand ʼn slagoffer van geweld kan wees, ’n mens moenie naïef wees en dink dat dit nie met jou kan gebeur nie. Hierdie klasse het my gemotiveer om meer waaksaam en bewus van my omgewing te wees.”

Om deel te word van AfriForum Jeug, SMS jou naam na 32687 (R1). Gaan volg ook AfriForum Jeug Maties se Facebook-blad.

 

Soortgelyke plasings