|

AfriForum Jeug sê Puk Bly Puk!

Die drie kampusse van die Noordwes-universiteit (NWU) se identiteit en korporatiewe kleure is in gedrang nadat die universiteitsraad onlangs ’n besluit vir ʼn unitêre en fakulteitgedrewe model aanvaar het.

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van NWU, het in ʼn verklaring gesê dat ’n deeglik nagevorsde verslag aan die universiteitsbestuurskomitee (UBK) voorgelê is waarin ʼn nuwe primêre kleur vir die NWU voorgestel word. Ingevolge die voorstel moet die maroen van NWU-Pukke, die groen van NWU-Vaal en die blou van NWU-Mahikeng met pers vervang word.

Die raad moet nog oor die voorstel ’n besluit neem.

Luidens die verklaring sal die nou bekende en gevestigde NWU-logo nie verander nie. Sportspanne sal wel nie langer maroen, blou of groen gebruik nie, maar een primêre kleur. Dieselfde geld vir bemarkingsmateriaal waar hul net een primêre kleur kan gebruik.

Luidens die verklaring word daar ook voorgestel dat die gebruik van die naam “Pukke” nie meer in formele kommunikasie of as handelsmerke gebruik word nie, maar niemand sal verhinder word om dit steeds op informele wyse te gebruik nie.

Kgwadi wys in die verklaring daarop dat ʼn finale besluit oor ʼn nuwe kleur egter by die NWU-raad berus. “Aangesien nuwe kleure verskeie belangegroepe raak, is daar na die UBK se oorweging van die saak met ʼn gespreksproses begin ten einde inkoop te verkry. Dit sluit gesprekke met studente en sportliggame in.”

Hy sê voorts dat ʼn omvattende plan ook ontwikkel is om met belangegroepe te skakel ná ʼn finale besluit deur die raad geneem is.

Volgens Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, moes die universiteit vooraf met belanghebbendes soos studente, toekomstige studente of hul ouers en alumni gekonsulteer het oor dié veranderings. Hy sê ook dat nie eens die voorsitter van die vorige studenteraad (SR) of die voorsitter van die nuutverkose kampusstudenteraad (KSR) vooraf in kennis gestel is van dié veranderings nie.

AfriForum Jeug eis dat die Pukke-identiteit nie afgeskaf word tydens die samesmeltingsproses met die NWU-Vaal- en NWU-Mahikeng-kampus nie. “Die term ‘Pukke’ in die naam ‘NWU-Pukke’, asook die korporatiewe maroen kleur, gee identiteit aan Puk-studente en hul kampus. Dit sal onregverdig wees as elke NWU-kampus sy individualiteit verloor ten koste van dié samesmelting,” meen Maree.

AfriForum Jeug het ʼn petisie begin teen dié veranderings en beplan om met die NWU-bestuur te vergader om die saak verder te bespreek. Voeg jou naam by AfriForum Jeug se petisie teen die veranderings by: http://afriforumjeug.co.za/pukblypuk/

Soortgelyke plasings