AfriForum Jeug: UP se rasse-onderrok steek uit


AfriForum Jeug veroordeel die beslissing van die Universiteit van Pretoria (UP) se Studentekultuurkomitee (Stuku) om Sonop Manskoshuis te verbied om aan die a capella-sangkompetisie bekend as Sêr deel te neem bloot omdat Sonop nie die UP se transformasieteikens gehaal het nie.
Sonop het onder die naam van ’n geregistreerde vereniging, Blossoms Delight,  deelgeneem nadat hul affiliasie met die UP aan die begin van 2018 deur die universiteit gekanselleer is. Stuku het bevind dat die koshuis nie aan die universiteit se transformasieteikens voldoen nie en daarom nie meer deel van die UP is nie.

“Dit is duidelik dat ’n geregistreerde vereniging nou van hul reg ontneem word om aan universiteitsgeleenthede deel te neem bloot omdat hulle volgens die universiteit té wit is en nie aan die UP se definisie van transformasie voldoen nie. Dit is niks minder as diskriminasie op grond van ras nie. Studente moet gelyk geag word – ongeag hul ras. Nou word hulle juis op grond van hul ras uitgesluit,” sê Ohann Fourie, nasionale koördineerder van kampusstrukture by AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug gaan Sonop Manskoshuis in die proses bystaan wat nou ná Stuku se beslissing gevolg gaan word.

“Ons kan nie toelaat dat daar teen studente gediskrimineer word op grond van ras nie. Hoe is dit moontlik dat jou sang en deelname aan Sêr deur jou ras bepaal word?” vra Fourie.

Fourie meen ook dat hierdie ’n baie problematiese voorval is wat sy kop al hoe meer op kampusse landwyd uitsteek.

“Al hoe meer studente-organisasies word van studentelewe en studentegeleenthede ontneem omdat hulle nie aan die nasionale demografiese transformasiebeleid voldoen nie,” sluit Fourie af.

AfriForum is besig om die aangeleentheid verder te ondersoek.

Soortgelyke plasings