|

AfriForum Jeug staan op teen die EFF by Tuks

 

Deur : Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum Jeug meer as ‘n duisend studente gemobiliseer by die Universiteit van Pretoria (UP) om op te staan vir Afrikaans as onderrigtaal.

AfriForum Jeug en talle studente het gister teen die EFF opgestaan wat eis dat met Afrikaans weggedoen word.

Dié studente-vereniging het ’n memorandum aan prof. Niek Grové, registrateur van UP, oorhandig om die versekering te kry dat Afrikaans sy plek as onderrigtaal sal behou.

“Met die aantal studente wat hier opgedaag het, is dit duidelik dat Afrikaans vir baie studente belangrik is. Prof. Grové het aan AfriForum Jeug die versekering gegee dat ons binnekort na ’n vergadering genooi sal word om óns kant van die saak te stel,” het Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder, gesê.

Die oorhandiging het plaasgevind nadat talle Afrikaanse studente ‘n vergadering op kampus wou bywoon wat deur die bestuur van UP gereël is om die huidige taalbeleid en die pad vorentoe te bespreek. Die vergadering is gereël na afloop van die EFF se uitlatings en dreigemente om die kampus onregeerbaar te maak as daar nie met Afrikaans weggedoen word nie. Lede van die UP-bestuur en die EFF het dié Afrikaanse studente egter toegang tot die vergadering geweier.

Prof. Themba Mosia, hoof van studentesake by die UP, het glo aan studente buite die vergaderlokaal gesê dat AfriForum Jeug nie meer welkom was by die vergadering nie en dat die bestuur slegs met EFF- en Uprising-lede  sou vergader. “Ons skei julle om te vermy dat daar struwelinge sal wees. Ons sal dus Vrydag apart met AfriForum Jeug-lede ontmoet om die beleid te bespreek.”

Studente was egter nie tevrede met die skeiding nie en wou weet hoekom die bestuur apart met AfriForum Jeug wou vergader.

Die sowat 500 studente het toe na die administrasie gebou van die UP opgeruk om die memorandum te oorhandig en hul ontevredenheid met die bestuur se hantering van die saak te toon.

Neil Terblanche, ‘n tweedejaarstudent en lid van Olienhout- manskoshuis, het aan Forum Nuus gesê dat hy ontevrede is met die bestuur se optrede. “Ons het ‘n vreedsame optog gehad, daar was geen geraas of vandalisme nie en steeds voel dit nie asof die bestuur na ons luister en ons saak wil ernstig opneem nie.

“Dit skep die indruk dat die universiteit slegs op radikale optrede en geweld reageer, wat ‘n baie slegte beeld skep,” het hy gesê.

Hy het gesê hy hoop dat die bestuur hul plan vir Afrikaans deeglik uiteen sal sit en aan studente bekend sal maak. “Ek glo nie dit is rassisties om te vra dat Afrikaans moet bly nie. Dit neem nie die internasionale krediete van ons kwalifikasies weg nie en dit ontneem niemand van hul regte nie.”

Ná die oorhandiging van die memorandum het lede van EFF oproerig geraak en die polisie moes ingeroep word. Die EFF het na die ingenieursgeboue gemarsjeer met die doel om klasse te ontwrig. Sekere klasse is gesluit om studente te beskerm en ander studente is gedreig, terwyl rassistiese aanmerkings teenoor Afrikaanse studente gemaak is. Afrikaanse studente is ook met glasbottels gegooi.

“Die EFF se optrede wys duidelik dat die organisasie nie in samewerking of samesprekings belangstel nie. Afrikaanse studente moet juis nóú vir hulle regte opstaan,” het Mostert gesê.

Lede van AfriForum Jeug is met verskeie wapens aangerand en ’n vrouestudent is met ’n bottel teen die kop getref.

Klasse is intussen by die universiteit opgeskort.

Soortgelyke plasings