AfriForum Jeug tevrede met NWU-raadsbesluit


Die raad van die Noordwes-Universiteit (NWU) het die besluit geneem om die universiteit se voorgestelde bemarkingsplan te heroorweeg. Dié bemarkingsplan het onder meer voorgestel dat die kenmerkende maroen van die NWU-Pukke na pers verander word, asook dat die woord “Pukke” uit alle bemarkingsmateriaal van die Potchefstroomkampus van die universiteit verwyder moet word.

“AfriForum Jeug het nie met hierdie voorgestelde wysigings saamgestem nie en daarom het ons ’n paar weke gelede die #PukBlyPuk-veldtog geloods. Die Puk, soos die Potchefstroomkampus van die universiteit bekendstaan, hoef nie sy identiteit in die samesmeltingsproses prys te gee nie. Die NWU-raad se heroorweging beteken dat die unieke Puk-identiteit vir tyd en wyl binne die groter Noordwes-Universiteit behoue sal bly,” sê Ohann Fourie, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir kampusstrukture.

Die jeugorganisasie se Puk-tak gaan voort met hul petisie om te verseker dat toekomstige en huidige studente, asook ouers en alumni se stemme in hierdie tyd gehoor word. “Ons wil alle belanghebbendes oor hierdie verwikkelinge inlig ten einde te verseker dat besluite soos hierdie nie eensydig aan die kant van die NWU-raad geneem word nie,” sê Fourie verder.
Studente word aangemoedig om by AfriForum Jeug in te skakel om sodoende te verseker dat hul menings in ag geneem word. Die jeugorganisasie moedig elkeen wat ’n belang by die saak het aan om die petisie te onderteken.
Onderteken die petisie deur op die volgende skakel te klik: http://afriforumjeug.co.za/pukblypuk/.

Soortgelyke plasings