|

AfriForum Jeug: transformasie kan lei tot nikswerdgrade

AfriForum Jeug het vandag in aanloop tot vanjaar se studenteraadverkiesing (SR) nikswerdgrade uitgedeel by die Universiteit van Pretoria (UP) se hoofingang.

Dié protesaksie vorm deel van AfriForum Jeug se veldtog om studente bewus te maak van dié universiteit se dalende statuur as tersiêre instelling. Volgens die jeugvleuel is dié daling beduidend van die effek wat transformasie op tersiêre onderrig kan hê.

Dít volg nadat die UP in een jaar met 50 plekke van nommer 501 (in 2015) tot nommer 551 (in 2016) op die QS World University Rankings gedaal het, terwyl die UP in 2014 nog onder die top 500 universiteite getel het met ʼn 471ste plek op dié ranglys.

Die jeugvleuel moedig studente aan om tydens die verkiesing vanjaar vir AfriForum-kandidate te stem en sodoende sáám druk op die UP-bestuur uit te oefen om te verseker dat aanstellings en toelatings slegs op grond van meriete geskied.

“Ons wil studente bemagtig deur op te staan teen onbekwame dosente, rassediskriminasie en radikale transformasie,” sê Henrico Barnard, woordvoerder van AfriForum Jeug se Tuks-tak.

Barnard sê voorts dat die UP 360 plekke agter die Universiteit van Kaapstad (UK) is wat met ʼn rangorde van 191 die beste presteer het van alle Suid-Afrikaanse universiteite wat op dié ranglys verskyn.

Hy verduidelik dat die UP vir homself ʼn doelwit gestel het om teen 2025 een van die top 100 universiteite in die wêreld te wees, en dat studente tydens die verkiesing moet saamstaan om dié doelwit te verwesenlik.

“Studente moet tydens vanjaar se verkiesing stem vir ʼn organisasie wat streef na akademiese uitmuntendheid en wat werklik ʼn verskil op hul kampus kan maak.”

Soortgelyke plasings