|

AfriForum Jeug verteenwoordig minderhede by Unpo in Den Haag

Henk Maree, voorsitter van AfriForum Jeug, het pas uit Den Haag, Nederland, teruggekeer waar hy ’n werkwinkel van die Unrepresented Nations and People’s Organisation (Unpo) bygewoon het.Unpo is ’n internasionale organisasie wat hom sedert 1991 beywer vir die regte van minderheidsgroepe en inheemse volke. Die organisasie verteenwoordig 200 miljoen mense wêreldwyd.

Die konferensie wat van 5 – 7 Augustus gehou is, het gefokus op inheemse menseregte, voorspraak by die Verenigde Nasies (VN), drukgroep-aktiwiteite by die Europese Parlement en kommunikasiestrategieë vir aktivistiese organisasies.

Volgens Maree was dit ’n baie sinvolle werkwinkel. “Dit was ongelooflik om soveel verskillende groepe mense van regoor die wêreld bymekaar te kry waar kernkwessies vanuit uiteenlopende standpunte en beskouings bespreek is.

Van die verteenwoordigers was byvoorbeeld van Vietnam waar regeringsvervolging aan die orde van die dag is. ’n Minderheid van Mauritanië was ook daar en het te velde getrek teen die owerhede van dié land wat aktiviste teen slawerny intimideer, onderdruk en teister. “Die aktiviste se optrede word verbied en hulle word gereeld gearresteer.”

’n Drukgroep wat Pakistan verteenwoordig, het verhale vertel van grondgrype deur die regering. Grond word hier aan weermagoffisiere uitgedeel. Mense wat in opstand hierteen kom, was al slagoffers van mishandeling, marteling en het selfs nie die dood ontkom nie.

“Ek kyk met nuwe oë na onregverdige optrede teenoor minderhede regoor die wêreld en besef hoe noodsaaklik die rol van burgerregte-organisasies soos AfriForum is om ’n stem vir minderhede te wees.

“Dit is belangrik dat minderhede in hul onderskeie lande vir hul regte veg en opstaan, maar internasionale druk en verteenwoordiging is net so nodig.”

Maree het gesê die kongresgangers was geskok oor die inligting wat hy met hulle gedeel het oor die omvang van plaasmoorde en –aanvalle in Suid-Afrika asook die voorkoms van kulturele karaktermoord op Afrikaners.

Volgens  Maree het hy opnuut besef hoe belangrik ingryping is aangesien baie verteenwoordigers van ander lande waar dit nou beroerd gaan, verduidelik het hoe die aanvanklike aanslag op hulle en hul regte begin het.

Wat die kommunikasiestrategie vir onderdrukte en gemarginaliseerde minderhede betref, was dit duidelik dat die gebruik van sosiale media en interpersoonlike interaksie met belangegroepe van deurslaggewende belang is om hul boodskap oor te dra, het Maree gesê.

Soortgelyke plasings