|

AfriForum Jeug waarsku teen vandale van kultuurgoedere

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum Jeug sal sélf ’n strafregtelike klag teen die #RhodesMustFall-vandale lê indien dr. Max Price, visekanselier van die Universiteit van Kaapstad, dit nie doen nie.

Dit kom nadat ondersteuners van dié betogingsveldtog kultuurgoedere geskend het deur historiese skilderye asook voertuie op die kampus aan die brand te steek. ‘n Groep studente het verlede week informele strukture (sinkhuisies) opgerig buite die Jameson Saal uit protes teen die universiteit se gebrek aan behuising. Hulle beskuldig die universiteit daarvan dat hulle diskrimineer en slegs vir blanke en ryk studente voorsiening maak vir verblyf.

Volgens Gerda Kruger, direkteur van kommunikasie by die Universiteit van Kaapstad, het die bestuur gister ’n brief aan RMF gestuur waarin hulle gevra is om hul strukture te skuif nadat dit verkeersopeenhopings veroorsaak het. Die bestuur het dit duidelik gemaak dat die groep se reg op protesaksies steeds gerespekteer word en was bereid om gesprekke te voer oor alternatiewe verblyf.

“Die groep weier om in gesprek te tree met die bestuur en hul optrede is uiters gewelddadig,” het Kruger gesê.

Sy het in ’n verklaring gesê dat die RMF-studente Dinsdagmiddag, nadat lede van die bestuur met die RMF wou onderhandel oor die tydelike strukture, by die Smuts-, Jameson- en Fuller-koshuise ingestorm en verskeie skildery van die mure afgehaal en toe verbrand het.

“Hulle traumatiseer die wagte en studente. Die optrede van die RMF-studente oorskry alle moontlike perke van wettige protesaksies. Ons is diep besorg oor die veiligheid van die studente en personeellede,” het sy gesê.

Luidens media berigte is die skilderye moontlik uit ’n koloniale tydperk.

Pat Lucas, mediabestuurder by die universiteit, het aan Forum Nuus gesê daar is nog geen verdere besonderhede oor die skilderye wat verbrand is nie. “Die Universiteit is besig om die saak te ondersooek, ons is nie seker uit watter tydperk die skilderye kom of wie die kunstenaars is nie.”

Cecilia Kruger, hoof kunsbewaarder by die Voortrekkermonument, sê dat dit moeilik is om die waarde van die skilderye te skat. Sy meen verskeie aspekte, soos wie die kunstenaar is, die tydperk asook die tipe toneel of portret sal bepaal wat die waarde is.

“Die vandalisme van enige kunswerk of geskiedkundige objek is uiters betreunswaardig. Dit dui op ’n vervlakking in ons beskawing.”

Kruger sê dat enige kunswerk eenmalig geskep word en binne ’n sekere tydperk en konteks dui op 0’n sekere benadering tot die lewe. “Wanneer ons ‘n kunswerk verloor, verloor ons ‘n deel van ons geskiedenis.” Sy het ook gesê dat dit noodsaaklik is vir universiteite en ander instansies met waardevolle kunswerke om ’n inventaris te hou daarvan.

Prof. Alec Duffy, ’n kultuur- en erfeniskenner meen vandalisme  hoort nie by universiteite en museums nie. “Ons as Suid-Afrikaners is bewaarders van internsionale en inheemse kulture se geskiedenis. Ons museums en instansies het kunswerke van regoor die wêreld. Indien jy iemand anders se kultuur en erfenis afbreek, verdien jy dit nie om joune te probeer bewaar nie.”

Hy het voorts gesê dat hy verbaas is dat die Universiteit van Kaapstad nie kennis het oor watter kunswerke vernietig is nie. “Die normale prosedures is om ’n volledige inventaris te hê oor die kunswerke wat in die instansie se besit is.”

Duffy sê ook dat hy bewus is van ander universiteite wat reeds bykomende voorsorgmatreëls getref het na afloop van die voorval in Kaapstad.

Mnr. Daniel Mosako, kurator van die Edoardo Villa- en Anton van Wouw-beeldhouwerke by die Universiteit van Pretoria, sê dat die universiteit kennis geneem het van die voorval by Kaapstad en dat opdrag gegee is aan ’n kunsbestuurder om te evalueer watter kunswerke blootgestel is en moontlik geteiken kan word deur vandale. “Die relevante kunswerke is tydelik weggeneem en word veilig bewaar,” het hy gesê.

Luidens die kunswebwerf, Art Times, is een van die skilderye wat verbrand is by Kaapstad geskilder deur Richard Baholo, ’n kunsonderwyser en voormalige Suid-Afrikaanse kunstenaar. Die universiteit het baie van sy skilderye aangekoop en ook vir hom gratis verblyf verskaf toe hy tydens sy studies gesukkel het.

Volgens Gabriel Brown van Art Times illustreer die RMF-groep se optrede hul totale gebrek aan sensitiwiteit.

“Dit is hartseer om te sien dat Richard se lyding, harde werk en uiteindelik sy bydrae tot swart Suid-Afrikaanse Kuns, nou verbrand en tot nuut is.”

AfriForum Jeug het aan alle universiteitsbesture in die land ’n brief gestuur om te waarsku dat hulle erfenisskatte op kampusse moet help bewaar. “Universiteitsbesture het ’n verantwoordelikheid om kultuurerfenis te bewaar en toe te sien dat sekuriteitsstrukture voldoende is om enige vorm van geweld en vandalisme onmiddellik te stuit. Enige persoon wat hom of haar aan kultuur- en erfenisvernietiging skuldig maak, moet strafregtelik aangekla en vervolg word,” het Ian Cameron, AfriForum Jeug se nasionale woordvoerder, gesê.

“AfriForum Jeug sal help om studente te beveilig indien hierdie geweld oorspoel, veral teenoor studente wat ’n historiese verbintenis het met die erfenisskatte wat beskadig en vernietig word. Studente word aangemoedig om hulself te verdedig en op hul reg tot onderrig in ’n veilige omgewing aan te dring.

 

 

Soortgelyke plasings